Soorte resepte:

Kweek gesonde gewoontes tydens inperking

(Foto: Verskaf)

Die staat van algehele afsondering wat tans in Suid-Afrika van krag is, is die regte tyd om nuwe, gesonde gewoontes aan te leer, eerder as om jouself te vergryp aan vetterige en suikerbelaaide peuselhappies.

Só sê Catherine Clark, die eienaar van die aanlyn gesondheidswinkel The Harvest Table.

“Kom ons weer eerlik, ʼn bak aartappelskyfies voor die televisie is baie meer verleidend as ʼn handvol wortelstokkies!”

As jy probeer om gewig te verloor, sê Clark daar is egter geen beter tyd as hierdie om jou doelwitte te bereik nie.

Clark gee die volgende wenke om jouself op die regte pad te hou:

  • Koop slim

Koop met ʼn lysie en moenie daarvan afwyk nie (jy moet in elk geval so min as moontlik tyd in die winkel deurbring) en vermy die lekkergoedrak so ver as moontlik.

  • Eksperimenteer in die kombuis

As jy beplan om gesond te eet, moet jy seker maak die kos is vir jou lekker. Om te eksperimenteer in die kombuis kan ook ʼn lekker aktiwiteit vir die hele gesin wees en kan jou vir ure besig hou. ʼn Heerlike smoothie (resep onder) vir ontbyt of ʼn lekker sop (resep onder) vir ʼn koel aand sal dit maklik maak om te hou by jou dieet.

  • Beperk bank-tyd

Dit kan verleidend wees om net op jou rusbank te lê en na jou gunsteling-televisiereeks te kyk, maar nou meer as ooit is dit belangrik om jou liggaam aan die beweeg te kry.

Probeer ten minste 30 tot 60 minute oefeninge elke dag inkry, en betrek jou kinders ook. Jy kan maklike oefeninge op YouTube kry of jou gesin kan sokker, aan-aan of mini-krieket in die tuin speel. Gewone huiswerk is ook ʼn goeie manier om aan die gang te bly.

  • Skep ʼn roetine

Nou is die tyd om haalbare doelwitte te stel en ʼn roetine wat daarmee saamgaan. Skep en hou by ʼn roetine wat jy vir die volgende 21 dae kan volg, maar ook vir die dae daarna.

As jy in ʼn kantoor werk, kan jy nie teen 10:00 oefeninge doen nie, so moet dit nie nou ʼn gewoonte maak nie. As jy altyd ontbyt eet voor werk, hou aan om dit so te doen.

Wat jy ook al doen, maak seker dat die gesonde gewoontes wat jy nou skep, volhoubaar is vir wanneer die lewe terugkeer na normaal.

Ontbyt-smoothie vir ʼn sterk immuunstelsel

Genoeg vir 2

Bestanddele

  • 1 pynappel, in stukkies gesny
  • 1 avokado, in stukkies gesny
  • 2 k water
  • 3 t Super Immune Shake van The Harvest Table

Metode

  1. Meng al die bestanddele in ʼn voedselverwerker en drink dadelik.

 

Sop vir ʼn herfsaand   

Bedien 4-6

Bestanddele

  • olyfolie
  • 2 uie, gekap
  • 2 wortels, gekap
  • 4 knoffelhuisies, gekap
  • 2 stokke seldery, gekap
  • droë brandrissie na smaak
  • 5 ml droë roosmaryn
  • sout en peper na smaak
  • 2 kg botterskorsie, grof gekap
  • 2 ℓ water
  • 3 t Bone Broth Powder van The Harvest Table
  • 1 e Turmeric Latte van The Harvest Table per porsie

Metode

  1. Verhit 3 e olyfolie in ʼn groot pan oor medium hitte.
  2. Voeg die uie, wortel, knoffel, seldery, rissie, roosmaryn, sout en swartpeper by. Kook vir 10 minute of tot soet en sag.
  3. Voeg die botterskorsie en water by saam met die The Harvest Table Bone Broth Powder. Bring tot kookpunt en prut vir 30 minute
  4. Wanneer die botterskorsie sag is, meng die sop met ʼn voedselverwerker tot glad.
  5. Geur met sout en peper, en skep in bakke. Roer 1 e The Harvest Table Turmeric Latte by elke porsie in.
  6. Sprinkel met olyfolie en bedien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.