Soorte resepte:

Kyk: ‘Proe gou hier!’ saam met Philicity Reeken

Philicity Reeken, aktrise en omroeper, Leonie Bezuidenhout, ‘Proe gou hier!’-aanbieder en Elsabé Erasmus, grafiese ontwerper by Maroela Media. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Die aktrise, aanbieder en Jacaranda FM-omroeper Philicity Reeken kuier saam in die Maroela Media-kombuis vir ons eie en unieke kookprogram, Proe gou hier!

Proe gou hier! is ʼn informele kookprogram waar Afrikaanse bekendes, legendes en invloedrykes ʼn resep wat hulle na aan die hart lê, kom maak.

In dié episode spog Philicity met haar diverse kookvernuf en maak ʼn waterblommetjie-tempura-dis terwyl sy oor haar veelsydige loopbaan gesels.

Volle episodes van dié reeks is op AfriForumTV te sien, terwyl gaste se resepte en ʼn korter episode met die hoogtepunte hier op Maroela Media beskikbaar is.

Waarvoor wag jy, kom proe gou hier!

Philicity Reeken se waterblommetjie-tempura-dis

Bestanddele:

Vir die aïoli (knoffel-mayonnaise)

  • 2 eiergele
  • 30 ml suurlemoensap
  • 10 ml dijonmosterd
  • 1 knoffelhuisie
  • knippie sout en swartpeper
  • 125 ml kanola-olie

Vir die doopsous

  • 45 ml sojasous
  • 45 ml vars suurlemoensap
  • 15 g vars gemmer, fyn gerasper
  • 2,5 ml sesamolie
  • 1-2 sprietuie, fyn gesny

Vir die waterblommetjie-tempura

  • 500 g vars waterblommetjies
  • 70 g koekmeel
  • 60 g mielieblom
  • knippie sout en swartpeper
  • 180 ml sodawater

Metode

  1. Vir die aïoli, meng die eiergele, suurlemoensap, mosterd en knoffel in ʼn klein menger met ʼn oop tuit (of ʼn lang koppie met ʼn stokmenger) en geur met sout en peper. Voeg die olie by terwyl jy aanhoudend meng totdat ʼn dik mayonnaise-tekstuur verkry is. Hou eenkant.
  2. Vir die soja-doopsous, klits al die bestanddele saam in ʼn klein mengbak en hou eenkant.
  3. Spoel die waterblommetjies goed af en bring dan ʼn medium pot water tot prut.
  4. Voeg die waterblommetjies by en bedek met ʼn deksel. Laat hulle stoom vir 10 minute.
  5. Verwyder die waterblommetjies uit die pot en dreineer die oortollige water. Sit eenkant om effens af te koel.
  6. Meng die koekmeel en mielieblom in ʼn mengbak, geur met sout en peper en voeg die sodawater by. Meng met ʼn vurk of klitser.
  7. Verhit olie in ʼn wye pot op 180 °C. Doop elke waterblommetjie in die beslag om alle kante te bedek en plaas dan versigtig in die olie. Braai in sarsies aan albei kante totdat die waterblommetjies goudbruin is.
  8. Verwyder die waterblommetjies en verwyder enige oortollige olie met kombuispapier.
  9. Bedien warm met die aÏoli en die soja-doopsous aan die kant.
  • Kyk hier na die volledige episode op AfriForumTV.
  • Kyk hier na die korter episode:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.