Soorte resepte:

Luister: Kom sit aan by Martelize se stamtafel

Martelize Brink (Foto: Verskaf)

Martelize Brink, RSG-omroeper en kosliefhebber, het ʼn splinternuwe kookprogram wat eersdaags op die kassie te sien is.

In Martelize se stamtafel nooi Martelize elke week ʼn bekende gas om saam met haar te kook en kuier: Van Ivan Botha en Donnalee Roberts, Denise Newman, Deon Lotz en Sandra Prinsloo, tot Vicky Davis en Neil Sandilands.

“Dit was nie vir my vreemd om mense in die huis te verwelkom nie. Ek wou net gehad het dat mense lekker eet en die samesyn geniet,” het Martelize tydens ʼn onderhoud met Maroela Media vertel.

“Ek is eintlik baie dankbaar dat dit in my huis verfilm is, veral omdat ons van vroegoggend tot -aand geskiet het. Dit was natuurlik ook heerlik om gaste met ʼn koppie boeretroos in te wag wanneer hulle douvoordag daar aangekom het.”

Martelize sê sy is verder dankbaar vir haar lewensmaat Marius van Tonder se volgehoue ondersteuning tydens die verfilming van die program. Hy moes ook dikwels maar by vriende gaan kuier of homself besig hou wanneer die span die huis oorneem, vertel Martelize skertsend.

Haar pa was ʼn predikant en juis daarom was Martelize vroeg-vroeg al gewoond aan die samesyn en om kos met mense te deel.

“Daar was altyd so baie kos, veral vir mense wat behoeftig was en dit nodig gehad het. Die voordeur van die pastorie was altyd oop,” onthou sy.

Buiten dat gaste hulself in Martelize se huis tuismaak, leer elkeen van hulle ook meer oor hul familiestambome. Die genealoog Aubrey Stringveld bestudeer gaste se herkoms en Martelize gebruik dit dan as inspirasie vir die ete wat sy maak.

Martelize en Aubrey het destyds ontmoet toe sy ʼn onderhoud met hom gevoer het oor vanne se geskiedenis. Die onderhoud was deel van haar oggendprogram op RSG. Sy vertel dat onderhoude oor hierdie onderwerp ʼn groot motiveerder was vir Martelize se stamtafel.

“Genealogie is ʼn baie gewilde onderwerp. Ons het dit al baie gedek op ons program oor die jare. Mense het ʼn behoefte om te weet waar hulle vandaan kom.”

Daarom het Martelize en die span wat Martelize se stamtafel saamgestel het uiteenlopende gaste gekies wat by ʼn wye gehoor aanklank sal vind.

“Ek het nie ʼn spesifieke persoon in gedagte nie; ek het Suid-Afrikaners in gedagte. Ek wil hê dit moet vir alle Suid-Afrikaners interessant wees. Dit is hoekom die herkoms van gaste so interessant en heeltemal verskillend is,” sê sy.

Martelize se stamtafel sal elke Woensdag om 17:00 op VIA, DStv-kanaal 147, uitgesaai word. Kyk hier na die lokprent van episode een:

  • Luister bo-aan die berig na die volledige onderhoud met Martelize Brink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Waarnemer ·

Martelize waarom net “bekende” mense uitnooi,daar is baie en ek bedoel baie “onbekende” mense wie net so lekker indien nie lekkerder kan kook as “bekende” mense.Ek het n broertjie dood aan wat die alewige “bekende” mense kan doen.Ek stel voor jy nooi lede van die publiek uit na jou kook program en dalk vind jy uit dat daar heerliker disse by “onbekende” mense is as by die sogenaamde “bekendes”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.