Soorte resepte:

Luister: Weskus-ervaring in bekroonde sjef se Duinhuis

Die uitsig vanuit Isabella Niehaus se Duinhuis in Langebaan. (Foto: Langtafel op die DUIN/Facebook)

Reeds sowat tien jaar lank bederf die sjef Isabella Niehaus gaste Sondae met ʼn feesmaal in haar huis in Calypso Beach, Langebaan.

Gaste wat by een van haar langtafels kom aansit, moet egter nie die fout maak om te dink dat dit net oor spoggerige onthaalkos gaan nie. Nee, ʼn ete in Niehaus se Duinhuis is ʼn kulinêre ervaring soos min.

Niehaus, ʼn voormalige moderedakteur van verskeie Suid-Afrikaanse tydskrifte, het geen formele opleiding gehad toe sy destyds die koswêreld ingestap het nie.

“Dit was nie regtig ʼn impulsiewe besluit nie. Ek dink dit is maar net iets wat oor my pad gekom het,” vertel Niehaus in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Haar kosloopbaan het by ʼn geleentheid in haar huis begin toe daar probleme met die spyseniers was. Niehaus het die situasie so gestaan en kyk, en besef daar is gaste wat moet eet. Sy het haar voorskoot nadergetrek en sonder om te veel daaroor te dink weggetrek en begin kos maak.

“Ek laat sak my kop in skaamte om te dink ek het byvoorbeeld mossels in water gekook. Ek meen, rêrig? Maar ek het nie van beter geweet nie, want ek was nooit regtig ʼn kok nie,” vertel Niehaus laggend.

Sy noem dit haar Duinhuis en beskou hierdie ruimte wat sy so gelate met vreemdelinge deel, as ʼn seëning.

“Ek glo daarin dat ʼn mens dinge met ander deel. Dit voel amper nie meer vir my of dit ʼn huis is nie omdat daar al soveel mense hier was. Ek ervaar soveel genot wanneer ek die mooi en ongekunsteldheid van my huis met ander kan deel.”

‘Duinhuis: Smake en geure’ is pas met ʼn Gourmand-prys vereer. (Foto: Langtafel op die DUIN/Facebook)

Niehaus, wat in koskringe bekend is vir haar Langtafel op die Duin, bied al tien jaar lank haar langtafel-etes aan. Afgesien van die onthale het haar Afrikaanse resepteboek, getiteld Duinhuis: Geure en smake, in 2019 by NB-Uitgewers verskyn.

Die boek is pas met ʼn Gourmand-prys vereer vir die beste kookboek ter wêreld in die onthaalkategorie.

“Vir my om daar met my Afrikaanse boek te staan tussen 85 lande se mense en van die grootste name in die kosbedryf is ʼn gevoel wat ek nooit vir iemand kan verduidelik nie,” vertel Niehaus.

Dié bekroonde sjef het pas gehoor dat nog twee van haar resepteboeke wat onlangs in digitale formaat verskyn het, weer vir Gourmand-toekennings in aanmerking kom.

“Ek het dit nog nie regtig aan die groot klok gehang nie, maar albei is in die topses. Dit bevat elkeen 15 resepte: die een boek fokus op mossels en die ander een op varkvleis.”

Die bekoring van Niehaus se Langtafel op die Duin was nog altyd dat vreemdelinge by ʼn tafel ontmoet, heerlike kos en ʼn glas wyn saam geniet en as vriende daar weggaan. Sy speel nie musiek nie, juis omdat die branders wat neffens haar huis breek so ʼn wonderlike atmosfeer skep.

Volgens Niehaus is daar wel een ding wat sy van altyd af saam met haar dra. Sy sê die eenvoud wat sy jare gelede in die modewêreld toegepas het, is ook sigbaar in die kos wat sy voorsit.

“In my modedae was eenvoud amper soos my handtekening. Ek het byvoorbeeld nooit bykomstighede gebruik nie,” sê Niehaus. “My kos is in ʼn mate baie gestroop, tog is daar op elke bord ʼn verskeidenheid van smake.”

ʼn Ete by Niehaus se Duinhuis bestaan uit ʼn vyfgangmaaltyd wat altyd met oesters begin. “Gaste gooi dan sommer hul oesterskulpe op die hoop wat ander mense oor die jare agter my huis see se kant toe gegooi het,” vertel Niehaus.

Ná die oesters volg ʼn mosselgereg en haar gerookte snoekkaaskoek. Die res van die spyskaart verander soos wat Niehaus eksperimenteer.

Ná tien jaar is dié Weskus-sjef nog net so gek oor die langtafel-gesellighede, haar Duinhuis en die vreugde om nuwe mense om die etenstafel te ontmoet. Besoek Niehaus se Facebook-blad en webwerf om meer oor Langtafel op die Duin te wete te kom.

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met Isabella Niehaus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.