Soorte resepte:

Maak Martelize se bitterballen só

In die agtste episode van Martelize se stamtafel kuier die veteraanaktrise Sandra Prinsloo saam met Martelize Brink. Hulle gesels oor Sandra se Nederlandse herkoms en Martelize sit bitterballen en stamppot voor.

Martelize Brink se bitterballenresep. (Foto: Verskaf)

Maak Martelize se bitterballen só:

Bestanddele

Vleismengsel

  • 500 g lendestuk of kruisskyf (rump), in blokkies gesny
  • 1 groot ui, opgesny
  • 2 knoffelhuisies, gekap
  • 500 ml beesstert- of beesvleisaftreksel
  • 2 lourierblare
  • 1 groot wortel, klein opgesny
  • 2 tiemietakkies of 1 t droë tiemie
  • 10 peperkorrels
  • olie vir diepbraai

Vir die sous

  • 4 e botter
  • ½ k meel
  • 1 k melk
  • 1 k beesvleisaftreksel

Vir die rol

  • 1½ k broodkrummels
  • 1 k meel
  • 2 eiers, geklits

Metode

  1. Vleismengsel: Voeg al die bestanddele saam in ʼn pot en kook tot die vleis heeltemal uitmekaar vlok (ongeveer 1½ uur) en tot al die vog afgekook het. Onthou om gereeld te roer soos die vog verminder.
  2. Laat afkoel en verwyder die lourierblare.
  3. Sous: Smelt die botter in ʼn pan.
  4. Voeg die meel by en roer goed deur. Kook in die pan vir ʼn paar minute terwyl jy roer.
  5. Voeg stadig maar seker die melk en beesvleisaftreksel by terwyl jy vinnig roer om klonte te voorkom – soos jy ʼn gewone witsous sou maak.
  6. Sodra al die vloeistof bygevoeg is, prut die sous vir nog 5 minute. Jy wil ʼn dik sous hê.
  7. Laat afkoel.
  8. Meng die vleis en witsous en plaas in die yskas vir ʼn paar ure.
  9. Smeer olie aan jou hande en begin die vulsel in balletjies rol (bietjie kleiner as ʼn gholfbal).
  10. Plaas elke balletjie op ʼn oliebesmeerde oppervlak.
  11. Sodra jy alles gerol het, plaas weer in die yskas vir so 30 minute.
  12. Vir die rol: Rol elke balletjie in die meel, dan in die eiers en dan die broodkrummels. Rol weer in die eiers en dan in broodkrummels.
  13. Diepbraai: Verhit olie in ʼn pot. Om te toets of die hitte reg is, plaas ʼn klein stukkie brood in die olie. Dit moet borrels vorm. Indien jy ʼn temperatuurmeter het, verhit die olie tot 180 °C.
  14. Verwyder die balletjies sodra dit goudbruin is en bedien met aioli

Het jy geweet? Prinsloo se oorsprong is ʼn toponiem van die Nederlandse “prins” en ʼn agtervoegsel “loo”, wat verwys na ʼn oop ruimte in ʼn woud – die Prinsloos sou dus werknemers in die prins se woud gewees het.

Martelize se stamtafel is Woensdag om 17:00 op VIA, DStv-kanaal 147, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.