Soorte resepte:

Meer as net Franse flair in Franschhoek

Leopard’s Leap se bekende luiperdstandbeeld wat teen die oranje hemel uitstaan.

Die wintermaande in die Franschhoek-vallei is gewoonlik die tyd om jou baret, streep T-hemp en jou fiets met sy rottangmandjie af te stof en reg te maak vir die Bastille-fees. Maar selfs as die fees nie voortgaan weens Covid nie, en nou dat daar minder oorsese toeriste is, is dit die ideale plek om saam met familie en vriende weg te breek, veral as almal lekkerbekke is en ’n liefde vir die natuur en goeie wyn het, skryf Maryke Roberts.

Ons bespreek verblyf aan die verste kante van die vallei: eers by Chamonix, een van die grotkelders, redelik hoog teen die berg, met sy verskeie verblyf-opsies en toe by die geskiedkundige La Motte net voor jy die dorp inry.

Daar is heelwat nuwe dinge aan’t gebeur by Chamonix. Nie alleen het die plaas onlangs by die Old Vine Project (OVP) aangesluit nie, maar nuwe etikette is ontwerp en ses hektaar chardonnay -aanplantings is vir vanjaar beplan. OVP-wingerde is ouer as 35 jaar en dra die sertifisering as Old Vine.

Die plaas se wynmaker, Neil Bruwer, het ook nou alle wyne as enkelwingerdwyne geklassifiseer en Chamonix het amptelik sy registrasie as landgoed ontvang, wat beteken dat alle druiwe wat in hul wyne gebruik word, van die plaas kom.

Die landgoed se hoof uitvoerende beampte, Stefan van Rooyen, vertel dat hulle nog altyd as landgoed funksioneer het, maar tog verlig is dat die dokumentasie afgehandel is en dit alles deel vorm van hul nuwe visie vir die plaas.

Dis enkele dae nadat Chamonix sy eerste chenin blanc in 15 jaar vrystel, wat ons gaan kuier. Die Chamonix Old Vine Steen 2020, kom uit die wingerde wat in 1965 teen die plaas se berghange geplant is. Rondom dié wingerd was vrugteboorde en dit was oorlede Chris Hellinger wat die plaas in 1991 gekoop en as wynplaas in die kollig geplaas het. Vrugtebome het plek gemaak vir, onder meer, chardonnay-, pinot noir- en pinotage-wingerde, maar dié ou blok is onaangeraak gelaat. Eersgenoemde twee kultivars is waarvoor die plaas bekend geword het.

Wat ’n wonderlike huldeblyk aan Chris se nagedagtenis, dink ek toe ons die yskoue Chenin saam met Neil en Stefan geniet. Hul opgewondenheid om deel van die OVP te wees en ’n wyn met die OVP seël bekend te stel, is tasbaar.

Neil sê daar is nie veel opgeteken oor die wingerd nie, behalwe dat dit die Jacquez as onderstok het en in sandsteen groei. Die 0,58 ha het 1 732 wingerde wat die ongenaakbare wind, winterreën en aanslae van plunderende bobbejane oorleef het.

Die druiwe is met die hand gepluk en toe vir sewe maande in Franse eikehoutvate verouder en kon net 600 bottels lewer. Om dus daarvan in my glas te hê, ’n raar voorreg.

Ons staan op die gastehuis se stoep, met uitsigte oor die vallei, wat jou vir ure vasgenael kan hou.

Ons stap later deur die Marco Polo gastehuis, wat ewe goed op ’n wildplaas diep in Afrika sou tuishoort. Chris se liefde vir jag is duidelik. Oral is indrukwekkende opgestopte diere wat hy gedurende sy lewe oor die hele Afrika gejag het. Daar is ook verskeie jaggewere teen die mure gemonteer en by die indrukwekkende groot kaggel pronk twee olifanttande.

Met beloftes dat die vuurtjie sal brand as ons terugkom ná middagete by Arkeste, pak ons af in die Lord Derby Eland-kamer. Die plaas het altesaam 14 kamers, wat versprei is tussen die gastehuis, die Hadida Lodge op die rantjie van die woud, die Waterval Lodge en Forest Suites teenaan die dam.

Ons kom al baie lank saam met Richard Carstens, eienaar en sjef by Arkeste op Chamonix. Hy was onder meer by Bijoux, Lynton Hall, Tokara en het die konsultasiemaatskappy, RiffelCarstens met Reuben Riffel gestig.

Arkeste is in die 300 jaar oue hoefsmidhuisie ingerig en dis hier waar Richard sy ervaring en kennis ná meer as drie dekades as sjef kan uitleef.

Dis so lekker om van jou kamer af op die natuurskone plaas te stap en hoe nader jy aan die restaurant kom, al die heerlike geure uit die kombuis te ruik. Op die stoep onder die bome, is dit tussen die lag en gesels van ander gaste deur, kort-kort verrassend stil – dis nou as jy die voëlgesang in die bome langs die houtstoep nie byreken nie.

Die wynlys het natuurlik baie Chamonix-wyne, maar ook verskeie bekende Kaapse wynland-handelsmerke.

Die sonnetjie breek plek-plek deur die blare en bak net genoeg op my rug om my loom te maak. Ons smul aan beestartaar met parmesaan en ’n truffel-vinaigrette vir voorgereg, voor die miso-gemarineerde biefstuk met sampioene en swartpeper-sous arriveer.

Ek kan amper nie besluit tussen die sjokolademousse, Gorgonzola-roomys met geposjeerde appel in chardonnay of die Leipoldt-melktertroomys nie, maar laasgenoemde wen oor die lekker soet nektariens en amandel-parfait.

Die laaste slukkie van die vlagskip rooi, Troika 2017, wat my beesvleis só goed komplementeer het, talm in my glas vir ná poeding en soort van padkos op die tong.

Ek is dankbaar ons stap terug gastehuis toe, want die bietjie oefening gee my oorvol maag kans om tot verhaal te kom.

By die kaggel met die groot stoele en olifanttande, kuier ons laataand oor Troika 2017, ’n Bordeaux-versnit met cabernet franc, cabernet sauvignon, merlot en petit verdot.

Ná ontbyt die volgende oggend, wag die wildkykvoertuig voor die deur. Jy geniet wildritte tussen die wingerde, waar jy dan daardie kultivar kan proe. Dié ritte is baie gewild, veral as jy nie ver daarvandaan ’n trotse wildebeesbul sien staan met die windjie wat in sy maanhare speel. My gedagtes van vroeër dat jy net sowel op ’n wildplaas in Afrika kon wees, kom weer by my op. Daar is, onder meer, volstruise, sebras, elande, bontebokke en springbokke op die 50 hektaar-wildreservaat.

Neil vertel oor die glas pinot noir, dat sowat 36 hektaar op die plaas onder wingerd is van die totale 235 hektaar en die helfte van alle aanplantings is chardonnay en pinot noir.  Altesaam 11 verskillende variëteite val onder sy waaksame oog.

Toe ons later in die interessante ondergrondse kelder ingaan, is die klein wynbiblioteek iets wat jou herinner aan ’n monnik se geheime wynkamer. Hier lê wyne van sover terug as 1988. Die plaas se ses verskillende grondtipes gee aan Neil die geleentheid om met verskillende karaktereienskappe te speel om sy wyne te maak.

“Daar is ’n groot verskil tussen die twee hange van die vallei, wat reënval en sonlig betref,” vertel hy met ’n glasie Estate White 2018 Reserve – ’n versnit van sémillon en sauvignon blanc – in ons glase. Hul witwyne word al beter, hoe langer dit verouder.

Ons verken die res van die vallei oor die volgende paar dae. Een van ons eerste stopplekke is Hey Joe Brewing Co. waar die bier yskoud en die glimlagte warm is. Ons hang soos regte toeriste by die kroegtoonbank, want daar is ’n heerlike atmosfeer en goeie musiek. Vir ’n wyle vergeet ons van inperking en virusse en kan jy jou verbeel jy is iewers in die Amerikaanse suide. Ons drink net vinnig Farmhouse Ale en Belgian Pale Ale, voor ons aanbeweeg na die historiese La Motte-wynlandgoed.

’n Kunsuitstalling wat ’n keur van werke uit die eienaars se persoonlike versameling is, is saamgestel as deel van die plaas se 50 jaar-vieringe onder die Rupert-familie se eienaarskap, is te sien.

Hanneli Rupert-Koegelenberg wat tans die landgoed besit, se pa, wyle dr. Anton Rupert, het La Motte in 1970 op ’n veiling gekoop en stelselmatig die historiese geboue begin opknap.

Werke word deurentyd met ander werke in die Rupert-familie se persoonlike versameling geruil. Hieronder is onder meer Irma Stern, Jean Welz, Cecil Higgs en Maggie Loubser. Die tweede gedeelte van die gallery is tuiste van die indrukwekkende Pierneef-versameling.

Kurator Elzette de Beer vertel ’n gespreksreeks met kunskenners en ander kenners is deel van die uitstalling en vind elke Dinsdag by die museum plaas.

Ons stap onder die reuse-eikebome deur, oor die houtbrug na die wynproelokaal. Hier brand die vuurtjie gesellig en ons sit in ’n knus hoekie en proe deur die wynlys. Daar is klein groepies mense oral om ons en dis so lekker om net inheemse tale te hoor – vir ’n rukkie is die oorsese gaste tuis en ons kraai omtrent koning!

Die landgoed se wyne bestaan uit vyf reekse en verskeie wyne is in Magnums beskikbaar. Ons proe die Classic-, La Motte en Pierneef-versamelings se wit- en rooiwyne saam met Jacques Johannisen, wat verduidelik dat ons nie wit eerste proe soos die gewoonte is nie, maar eerder die ligter style eerste.

Hy verduidelik: “Sommige witwyne is ryker as ander en dan kan jy nie die ligter style na behore proe nie.”

Deur die proe vra ons uit oor hoe hy op die plaas beland het en vind gou uit hy is die bes gekwalifiseerde proelokaalassistent ooit, want behalwe sy agtergrond in wyn en die feit dat hy al oeste oorsee meegemaak het, het hy ook ’n Europese kwalifikasie in gasvryheid. Maar vir nou is sy hart in die proelokaal en met die ywer en kennis wat hy elke groepie se proe hanteer, besef ons hy is gelukkig.

Agter ons rûe verouder die wyne in Franse eikehoutvate agter glas in ’n lugverkoelde ruimte, maar kort-kort loer iemand in vir ’n foto by ’n kolossale wynvat.

Ons kan nie besluit watter een ons gunsteling is nie, maar albei is mal oor die La Motte Sauvignon Blanc – die plaas se topverkoper – en die La Motte Pierneef Syrah Viognier 2017. Die viognier by ’n rooi druif is ’n interessante versnit, maar elke druif se beste kwaliteite kom na vore, verduidelik hy.

Al die proeëry het ons behoorlik honger en ons skuif oor na die Pierneef à La Motte-restaurant, waar die veelbekroonde sjef Eric Bulpitt, ons smullekker kos berei.

Ons het die La Motte Pierneef Syrah Viognier 2017 gekies as wyn vir die ete en gelukkig pas al ons koskeuses perfek daarby: eers tuisgemaakte tamatiesop met Welsch Rarebit en ’n ryk forelpatee met suurroom en ’n geroosterde wafel. Ek moet kort-kort fokus op die voorgereg, want die broodbord met sy mosbolletjies en gesoute botter, is net so ’n groot versoeking!

Ek eet die stadig geroosterde vark met soetpatat-gratin en ’n geskroeide brood-en-speserye-sous. Dit klink nog lekkerder as dié vreemde beskrywing en my geliefde geniet die beesfrikkadel in koolblare met lensie-ragout. Daar is nie plek vir poeding of koffie nie…

Ons slaap die middag om en toe ons laatmiddag wakkerword, net betyds om die son te sien sak, besef ons die loomheid in ons lyf is van regtig ontspan, om vir ’n paar dae weer toeris te kan wees asof die groot pandemie net ’n slegte nagmerrie was.

My man gaan werk die ryk middagete op sy fiets af, en ek stap lekker ver op die plaas, voor ons weer voor die kaggel gaan sit met ons boeke en ’n soetetjie in ons glas.

Ons is vroeg die volgende oggend terug vir die staproete op La Motte. Die roete deur die inheemse fauna en flora is net nog ’n manier wat die plaas sy bydrae tot bewaring uitleef. Die sirkelroete begin by die proelokaal en strek oor vyf kilometer, maar die staproete is twee kilometer. Ons stap verby die dam, oor die treinspoor tussen die wingerde deur en stop kort-kort vir foto’s of om voëls deur die verkyker te bekyk.

Daar aan die voet van die Wemmershoekberge word die uitsig oor die vallei al mooier, hoe hoër jy klim. Die pragtige kaart verskaf mooi tekeninge oor die verskillende wingerdblokke en ook agtergrond oor die gebruike van sommige van die fynbos en ander plante, soos die kransaalwyn, agtdaegeneesbos, vlieëbos, sybas, kliphout, wilde malva, strooimeisie en brandblaar. Ek verlustig my in die mooi Afrikaanse woorde en kry tot in my tone lekker as my lippe en tong so om die klanke vou. Die kaart vertel ons ook dat die plaas 222 meter bo seespieël lê en my man grap en sê dis hoekom ek so blaas – ons is soooo hoog bo seespieël!

Toe ons hoog op ’n klip gaan sit, lees ek die geskiedenis van die plaas in ’n neutedop en is verbaas dat die plaas vier nasionale monumente huisves: die herehuis en jonkershuis (beide in 1751 gebou); die historiese kelder wat in 1782 gebou is en die watermeul wat in 1721 opgerig is.

Geen kinders onder 10 kan op die staproete gaan nie en vooraf besprekings is nodig, hoor ek weer die proelokaalassistent se stem. Ons gaan loer sowat twee en ’n half uur later weer by die proelokaal in, om wyn te koop.

Gestort en verkwik, gaan ons gou koffie drink in die woelige hoofstraat waar Franse musiek op die sypaadjies uitspeel. Ons moet lag toe daar ’n bord by een van die koffiewinkels staan wat verkondig jy kan “die ergste koffie wat een vrou op TripAdvisor al in haar lewe gedrink het” daarbinne kom geniet!

Nie ver daarvan nie, word hope selfies geneem by die Hugenote-monument waar ons nie so lank gelede sorgeloos die Cap Classique en sjampanjefees geniet het nie en oral in die vallei maak wynplaasrestaurante reg vir middagete.

So gepraat van middagete, ons het bespreek by GlenWood se Gourmet Sushi Restaurant daar in die Robertsvlei-vallei. Jy sit onder die bome en verkyk jou aan die uitsig, terwyl die wynproe by jou tafel geniet kan word, voor die liplekker soesjiboot voor jou neergesit word. Dié boot is ’n sjefkeuse en het allerhande verskeie soorte soesji op.

GlenWood is 50 hektaar groot en het 30 hektaar onder ongeveer 120 000 wingerde. Die plaas produseer 90 000 bottels wyn per jaar. Die plaas se 200 ton-kelder is in 2000 gebou.

Ons wynproe word waargeneem deur Bob Malema en hy verdra die gekorswel oor sy voornaam en van, wat al twee na baie sterk denkende diktators verwys. Ons proe die Chardonnay 2019, ongehoute Chardonnay 2020 en Rosé 2020, voor die rooies: Merlot 2019, Shiraz 2019 en Syrah Grand Duc 2018, arriveer. Laasgenoemde het vir 24 maande in nuwe vate verouder en al hul rooiwyne het uitstekende verouderingspotensiaal.

Bob sê hy raai die chardonnay met ons soesji aan, “want dis sysag en komplementeer vis en seekos perfek”.

By die tafel langsaan sit ’n paartjie en knibbel aan Edamame-bone en calamari-tentakels terwyl hulle juis ’n yskoue bottel GlenWood ongehoute Chardonnay 2020 geniet.

Bob sê met ’n glimlag: “Shiraz is beste vir jou braai, maar maak altyd seker dis ’n GlenWood Shiraz!”

Ek lees in die handige pamflet voor ons dat jy, onder meer, verskeie suikerbekkies hier kan sien, maar het nie verwag dat dit sommer reg by die proelokaal sal wees nie. By die dam waarin die natuurskoon perfek reflekteer word, vergaap ek my aan die delikate voëltjies met hul lang bekkies wat die nektar uit fynbos opslurp.

Die middag drentel ons deur die dorp, loer by kunsgalerye en byderwetse winkels in, koop ’n roomys en loop lek-lek en kyk na ’n intieme troue by die pragtige wit kerk in die middel van die dorp.

Een van ons eerste stopplekke is Hey Joe Brewing Co. waar die bier yskoud en die glimlagte warm is. Ons hang soos regte toeriste by die kroegtoonbank, want daar is ’n heerlike atmosfeer, en goeie musiek.

Ons laaste aand in die vallei, gaan ons by Leopard’s Leap pizza’s eet, musiek in lewende lywe luister en soos van ouds op ’n kombers op ’n dik, groen grasperk sit en wyn drink. Ek wil my verbeel ek hoor hoe dié Vrydag saam sug van dankbaarheid oor die week verby is.

Mens kan hier in die ooptes weer effe normaal voel, as jy saam met ander – op ’n baie veilige afstand, gemasker en hande gereinig – die son sien ondergaan met ’n yskoue glas Brut Cap Classique in die hand. Die plaas se bekende luiperdstandbeeld wat teen die oranje hemel uitstaan, maak die perfekte foto.

Toe die luggie koel word, trek ons binnetoe, waar mense met hul aankoms aan gin en tonics teug; hul voete ritmies saamtik met Newton Theron se klanke en die pizza’s en soesji by ons verbygedra word. Oral sit groepe vriende en die atmosfeer is feestelik. Mens kan nie glo ons het vir bykans 14 maande hierdie (veilige) samesyn gemis nie!

Inperking het mens weer die waarde van die kleiner oomblikke in jou lewe geleer.

Ons kom gereeld op die plaas, omdat hier altyd lekker dinge aan’t gebeur is. Soms kan jy kom smul aan tradisionele etes by ’n tafel in die oop kombuis terwyl sjef Christiaan Visser jou voer; ander kere is dit iets anders uit die kombuisspan se kleurvolle verbeeldings.

Toe ons laataand huis toe ry, is ons harte net so vol soos ons mae. Versadig en verkwik hier in die vallei wat soveel meer as Franse verwelkom.

Kitsfeite

Foto’s: Clifford Roberts en verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.