Soorte resepte:

Melktertdag: Maroela-lesers deel gunstelingresep, -herinneringe

Argieffoto (Foto: Theana Breugem/FAK)

Met Nasionale Melktertdag wat vandag (27 Februarie) gevier word, het Maroela Media sy lesers gevra om hulle spesiaalste, oorspronklikste of gewildste melktert-oomblikke te deel. Hier is ʼn paar:

Beste van albei wêrelde

Maroela Media-leser Leoni de Coning vertel sy het tydens die eerste paar maande van die inperkingsperiode elke dag iets gebak of gebrou wat sy nog nooit voorheen self gemaak het nie. “Al wat leef en beef was ‘mos’ bobaaskokke. Ek inkluis,” sê sy skertsend.

Toe die dag kom om melktert te maak, het haar man voet by stuk gehou dat De Coning sy niggie se resep moet maak, omdat dit glo “die beste melktert in die wêreld is”.

“Ek het dit toe gedoen en haar resep in die hande gekry. Dit is ʼn heerlike resep met kondensmelkvulsel en ʼn tennisbeskuitjiekors, maar dit is ook baie soet,” vertel De Coning.

In dieselfde tyd het haar kleinneef toevallig “Ouma se melktert” gemaak en daarmee op hulle familie se WhatsApp-groep gespog. De Coning kon nie dié melktert met sy gebakte koekiekors weerstaan nie en het dit sommer net daar en dan gemaak.

“Dit het vorentoe gesmaak, en met die koekiedeeg wat oorbly, maak ek dan vingerkoekies met konfyt.” Haar man het egter voet by stuk gehou dat sy niggie se resep steeds lekkerder is.

Toe besluit De Coning om hom te fnuik met ʼn gekombineerde melktertresep: ʼn dubbele vreugde.

“Ek het my kleinneef se vulsel gemaak saam met die gebakte tennisbeskuitjiekors van Ouma se resep. Ha! Ha! Ha! My man dink steeds dit is sy niggie se resep (toe nie). Ek reken dit is best of both.”

Argieffoto

Chinese rolletjies (spring rolls) met melktertvulsel

Hierdie Chinese rolletjies (spring rolls) met melktertvulsel kom van Maroela-leser Riana Swart af.

Bestanddele

  • 1 blik kondensmelk
  • 3 blikkies water
  • 15 ml botter
  • 3 stokkies kaneel
  • 4 ekstragroot eiers
  • 125 ml mielieblom
  • 1 t vanieljegeursel
  • 1 400 g-pakkie Chinese spring roll-velle, beskikbaar by Chinese supermarkte
  • olie vir diepbraai
  • kaneelsuiker

Metode

  1. Gooi kondensmelk, water, botter, vanilla in ʼn kastrol en bring tot kookpunt. Roer voortdurend.
  2. Meng eiergele, mielieblom en ʼn bietjie water. Wanneer die melkmengsel kook, gooi eers net ʼn bietjie daarvan by die eiermengsel. Roer dan die oorblywende melkmengsel by.
  3. Klits die eierwitte tot witpiek-stadium en vou dit by die ander mengsel in.
  4. Laat mengsel afkoel. Borsel kante van Chinese spring roll-velle met eierwit.
  5. Skep ʼn opgehoopte teelepel melktertmengsel in elke velletjie en vou toe soos ʼn sigaar.
  6. Gooi genoeg olie in die kastrol en verhit dit tot baie warm. Diepbraai dan die rolletjies tot gaar.
  7. Die rolletjies moet baie vinnig braai want sodra die vulsel aan die binnekant begin kook, sal die rolletjies oopbreek en vulsel sal uitloop.
  8. Verwyder uit olie en sprinkel dadelik kaneelsuiker bo-oor.

“Die rolletjies kan warm of koud voorgesit word, maar ek reken dit smaak eintlik lekkerder wanneer dit ʼn rukkie gestaan en effens afgekoel het,” sê Swart.

Melktertmeester-stel in Maroela se aanlyn winkel, Die Koöperasie

Word ʼn melktertmeester

Of jy nou vieruur al in die kombuis staan om voor sonsopkoms te bak en bekommerd is daaroor om die veerligte lagies in die deeg te kry en of jy die vinnigste, maklikste resep wil probeer, koop solank dié baie spesiale Melktertmeester-stel in Maroela se aanlyn winkel, Die Koöperasie, vir slegs R250.

Dié stel bevat alles wat jy nodig het en moet weet om ʼn melktertmeester te word: wenke van ʼn melktertmeester, twee resepte (ʼn maklike en vinnige melktertresep en ʼn melktertresep vir diegene wat hul geliefdes wil beïndruk), die mooiste maroelaboom-stensil om jou liefde vir Afrikaans en melktert te bewys, ʼn bietjie kaneel en boonop ʼn boereporselein-blikbord om jou varsgebakte melktert in voor te sit.

Dis mos nou lekker, Maroela!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.