Soorte resepte:

Nóg ’n SA sjef kry Michelin-ster

Die Interlude-span vier sy Michelin-ster (Foto: Facebook)

Nóg ’n Suid-Afrikaner is vandeesweek met ’n Michelin-ster vereer, nadat daar vantevore slegs een in Suid-Afrika se naam was te danke aan Jan-Hendrik van der Westhuizen.

Jean Delport, die hoofsjef by die restaurant Interlude op die Leonardslee Gardens naby Hosham in Wes-Sussex, Engeland, is Maandag by ʼn toekenningsgeleentheid met ʼn Michelin-ster vereer.

Dit beteken dat Interlude in sy openingsjaar reeds ʼn Michelin-ster gekry het. Delport is ook een van die jongste sjefs om dié toekenning te ontvang op die ouderdom van 31.

“Ons kan nie ons dankbaarheid en opgewondenheid vanaand uitdruk nie,” het Interlude ná die toekenningseremonie op Instagram laat hoor.

“Dankie aan almal wat ons tot dusver op ons pad ondersteun het en aan Michelin vir die erkenning.”

Jean Delport, hoofsjef by Interlude (Foto: Facedbook)

Delport het gesê hy is dankbaar vir sy span wat dit vir hom maklik maak om lekker kos voor te sit.

Voordat Interlude en Delport met dié gesogte toekenning vereer is, was dit slegs Jan Hendrik van der Westhuizen wat dit vir Suid-Afrika kon huis toe bring.

Delport en Van der Westhuizen het albei aan die Zevenwacht-sjefskool in die Wes-Kaap studeer.

“Suid-Afrika het dit weer gedoen!” het Van der Westhuizen gesê. “Ons wys die wêreld dat ons kulinêre kundigheid kan kers vashou met die beste in die wêreld. Baie geluk aan Jean Delport en sy span, en welgedaan aan sjef Tim Woodford, wat ons albei se mentor was in ons vroeë sjefskooljare.”

Volgens die Michelin-inspekteurs is dit Interlude se vars tuinprodukte wat die restaurant laat uitstaan.

Die span van Interlude onder leiding van Jean Delport (Foto: Facebook)

“Die ongelooflike produkte uit die tuin verskaf verfrissende en oorspronklike geregte met balans en grasie,” het hulle in ʼn verklaring laat hoor.

Elke gereg by Interlude is seisoenaal en die proe-spyskaart is ontwerp met ʼn jagtersversamelaar-konsep, met kossoorte wat op die perseel gekweek word. Dit is ʼn intieme ervaring; ʼn klein, eksklusiewe dinee in die landgoed se Italiaanse herehuis.

“Ons is steeds in verwondering en nederig oor die groot eer,” het Interlude Dinsdag op Instagram gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

n feit ·

En ek glo die Mnr. sal nie weer terugkom na Suid Afrika nie. So nog n prestasie vir Suid Afrika , maar eintlik n ander land se wins.

Oom Harry ·

Hoekom moet hy terugkom? Hy werk saam met n pragtige span. Veels geluk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.