Soorte resepte:

Om die kombuistafel met Steve en ander bekendes

Foto: Verskaf

Foto: Deon van Wyk

Steve Hofmeyr en ander bekendes soos Bobby van Jaarseveld en Kurt Darren se gunstelingresepte is opgeneem in ʼn nuwe resepteboek wat gisteraand bekendgestel is by die Blou Hond-teater in Pretoria.

Om die kombuistafel is deur die organisasie “Een miljoen stemme vir Steve” (MSVS) uitgegee en volgens Amor Gerber, uitvoerende hoof van dié organisasie, is die doel met die resepteboek om geld in te samel vir hul “Pers sak”-projek – ʼn projek wat kos, klere en werkgeleenthede vir behoeftige mense gee.

“Ons doen baie liefdadigheid onder wit arm mense en omdat ons ʼn nie-winsgewende organisasie is, moet ons self geld insamel. Al die kunstenaars wat ʼn resep gedeel het, doen dit gratis en al die wins wat ons met die resepteboek maak, gaan weer na ons ‘Pers sak’-projek.”

Amor sê hierdie resepteboek is ʼn bietjie anders as die gewone omdat bekendes nie net ʼn resep deel nie, maar ook ʼn staaltjie uit hul jongdae of ʼn gunsteling-gedig.

“Die meeste van die resepte is eg-Suid Afrikaanse resepte soos bobotie en skaapstert. Daar is ook resepte wat ʼn bietjie aangepas is.”

Hoewel MSVS as ʼn Facebook-groep begin is wat Steve Hofmeyr in die politiek wou kry, meen Amor dat dié organisasie soveel meer geword het.

“Ons wil eintlik niks met politiek te doen hê nie, ons wil mense help. Daar is verskriklik baie nood onder ons mense en dit is om dié rede dat ons ʼn nie-winsgewende organisasie gestig het. Ons wil nie net vir mense gee nie, ons wil hulle bemagtig en hulle help om op hul eie voete te staan.”

Voor sy vertoning by die bekendstelling het Steve gesê hy hoop die boek doen baie goed sodat meer mense gehelp kan word.

“Gaan probeer die resepte, ek gaan hulle almal beproef! Ek het nou 20 boeke gekoop – my hele gesin kry een vir Kersfees,” het Steve gesê.

Ander bekendes wie se resepte ook in die boek opgeneem is sluit in Chris Chameleon, Lochner de Kock, Phillip Moolman, Gerhard Steyn en Adam Tas.

Besoek MSVS se webtuiste of Facebook-blad om die boek te bestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

suster sêra ·

Dankie, maar nee dankie. Om te kook saam met Steve is die laaste ding wat ek sal wil doen. Maar soos gladnie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.