Soorte resepte:

Om weer soos ouma te kook

Foto: Verskaf

Kykers kan vanaf 1 Oktober sien hoe Tiaan Langenegger die land deurkruis op soek na oumas se geheime in die kombuis.

In die nuwe kykNET-program Tiaan Onthou is daar in elke episode  ʼn ouma wat wys hoe sy haar bekende resep maak en gee Tiaan sy eie kinkel aan die resep.

Sy grootste vrees, sê hy, is dat ons gaan vergeet hoe om werklik te kook.

“Dis deesdae net te maklik om klaargemaakte kos te koop of self disse te maak wat jy net in die oond druk om iets op die tafel te sit. Niks kom egter by die manier waarop ons oumas gekook het nie.”

Tiaan het nou saam met Errieda du Toit, inhoudsvervaardiger van programme soos Kokkedoor en Koekedoor, gewerk om die regte inhoud vir Tiaan Onthou te kry.

Dit is vir hom geweldig belangrik dat ons Suid-Afrikaanse koserfenis behoue moet bly.

“Almal van ons onthou dae toe jy jonger was en by jou ouma se huis aangekom het en daar is bakke en bakke vol kos op die tafel. Ek wil daardie resepte, met al hulle verskillende geure en smake, gaan soek.

Foto: Verskaf

“Hulle het daardie dae met basiese bestanddele gekook en sonder die kortpaaie wat ons deesdae gebruik. As ons nie begin om daardie metodes vas te lê nie, gaan dit verlore gaan.”

Vir Tiaan is dit asof daar amper ʼn generasiegaping is in hoe ons kook. “Ons oumas het nog werklik gekook, maar deesdae is gerief die belangrikste. Ons moet weer werklik begin kóók.”

Hy hoop ook dat die program kykers nie net ouma se resepteboek laat nader trek nie, maar ook die foon laat optel om te hoor hoe dit met ouma gaan.

“Ek glo ons gaan met hierdie program ʼn skatkis van resepte ontdek, resepte wat vir die nageslag bewaar sal bly.”

Skakel vanaf 1 Oktober 2018 in vir Tiaan Onthou op DStv-kanaal 144 en gesels saam op sosiale media met die hutsmerk #TussenOns.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

E.K. die eerste ·

Mooi man! ‘n Vriend van my kry vlg week gaste van die VSA en dink julle ek kan nou maklik ‘n restaurant opspoor wat spesialiseer in Suid Afrikaanse kos? Lekker bobotie met geelrys, slaphakseentjies, kerrie afval (ek gril, maar ja, daar is wat dit sal wil probeer!)ouma se skaapboud met gebraaide aartappels, al ons lekker eie bredies, regte egte melktert, koeksisters…. geen snaakse goed maar regte egte SA kos…Dalk moet die oumas saamkom en ‘n EG Suid Afrikaanse restaurant oopmaak!

Jovaro ·

Op een voorwaarde ; dat ons die ou vetmaak, kanker veroorsakende disse en al die boere gemorskos met die sakke suiker en stysels daaruit hou.

Behoede ons dat die huidige generasie soos vet opgeblase gedrogte raak. Vir dekades poog ons om ons volk van die walglike vetsug te laat ontgroei of te laat af oefen.

Daars ‘n ander oplossing – eet jou verstikkende bak gemorskos maaaar ; more oggend sien ons mekaar vir ‘n 8 uur plus oefensessie om daardie tienduisende kilojoules af te skud. Beste eet gesond en dit beteken smyt die meeste boerekos resepte in die vuur (nee nie asblik nie want daar mag iemand dit dalkies uit grou) en ry verby die kitskos ashope.

Ja, ek wag vir die vloedgolf afskryf en beledigings. As ‘n gesondheidsbewus te is ek gewoond daaraan. Eerder 120kg spiere as 1kg walglike vet. Grrrrrrr

Lena Jonk ·

Hou jy maar verby, ons geniet dit en kan jou waarborg ons het nie almal vetrolle soos jy dink nie. Geniet jou oefening en spiere ons geniet ons boerekos. Vat sommer vir jou bietjie saam gym toe hoor.

Oudste ·

Grrrrr vir jou wat jou hoogmoedige gesondheids bewuste fikse (sien is glo) kommentaar oor walglike vet neergepen het. Weet jy, ou beesblaas, dat daar mense rondloop wat oorgewig is, nie omdat hulle so eet nie of so wil wees nie, maar weens siekte toestande? Wag maar, jy sal ook ouer word en dan kan jy maar terugdink aan hierdie skrywe, dit gese indien jou geheue jou sal toelaat om terug te dink.

KanekVra? ·

Altyd ‘n goeie idee om jou kultuur se disse, en metodes vir die nageslag te bewaar. Ongelukkig moet meeste van ons, baie hard werk om net liggaam en siel aanmekaar te hou. Oor die naweek, werk ek nog steeds. Teen die tyd wat dit by kook kom is ek so moeg, ek sien nie kans vir uitgerekte stadige metodes nie. Dan werk iets voedsaam, en vinnig vir my en my gesin. En of dit nou ‘n stukkie vleis met slaai is, of ‘n stukkie brood, is ek tevrede. Dit gaan nie net oor gerief nie, dit gaan oor die gejaagde, moderne stadslewe wat jou hele bestaan en tyd opvreet. En as ek iets in die mikrogolf moet druk, dan is dit nou maar so. As jy skatryk is en al jou tyd jou eie is, kan jy sekerlik maar die ou lang uitgerekte kook metodes van die oumas gebruik.

Penellope Jones ·

Dit behoort interessant te wees – so bietjie Oumakos is darem maar heerlik.
In vandag se lewe waar so baie mense iets gryp uit ‘n winkelyskas om in die mikrogolf te gaan opwarm, kan ‘n bietjie regtige outydse Ouma-kos dalk ‘n smaaklike verandering bring!
Mens hoef dit mos nou nie elke liewe dag te eet nie, so een maal per week is net reg!

Trisha ·

As ek die foon moet optel om vir Ouma te bel,gaan dit n baaaaaie lang afstand oproep wees want Ouma is al jare gelede weg huistoe.
Ekself is n Chef en ek vind in die “hospitality industry” neig sommige van ons weer terug na die ou wereldse kookstyl toe.
Ons het n “fancy” woord daarvoor…”Chic Country Cuisine”
M.a.w ons gebruik die jaar toet se “Kook en Geniet”en kul n bietjie hier en daar.
Dis verstommend hoe kinders se borde blink gelek van die tafels af terugkom , en nie n stukkie groente in sig.In my geval hou groente van kinders en anders om.
Ek maak my eie “relish” en blatjang van die aller beste organaniese groentes.
Gebruik my eie kruie wat vars uit ons kruie tuin afkomstig is en tower die aller heerlikste disse op met alles wat uit die Here se tuine uitkom.
Ekself het nou al baie hard probeer om kitskos etes in my keel af te wurg – maar gril my dood.
Ekself is ook lekker oor-mollig……”because u never trust an skinny chef”
Ek wil asb nie he my gaste en kliente moet lyk soos diegene wat posseels lek ipv n baie goeie bord boere kos eet nie.
So bly jy maar net daar by jou “gym”en asem die ander se sweet reuke in en suig aan n ongesonde “Power Drink”
Ag nee sies man.

Oom Piet ·

Hou watookal afval asseblief uit ” Tiaan Onthou “.

Spog kwaliteit boerekos ruik, lyk en smaak so liplek en vingerlek lekker dat bord en pot uitlek in menige se kop klokkies lui.

Te veel voorgesit en/of opgeskep, veral bo-op of met te veel stysels is wat vaakmaak en vetmaak.

Katerina ·

Ek kook darem nog soos ouma,ten minste 4-5 dae van die week in die winter en so 3 keer n week in die somer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.