Soorte resepte:

Ontmoet MKR se eerste groep tuiskokke

My Kitchen Rules SA (MKR SA) is terug vir ʼn derde seisoen. Die eerste tafel van vyf spanne sal dit uitspook oor die volgende vyf weke tydens die sogenaamde Instant Restaurant-fase van die kompetisie, in ʼn poging om beoordelaars David Higgs en J’Something te beïndruk en uiteindelik met R1 miljoen as prysgeld weg te stap.

Hier is die eerste vyf spanne van hoopvolle tuiskokke wat aan die derde seisoen gaan deelneem:

Palesa M (34) en Palesa N (31) – beste vriendinne van Johannesburg

Palesa en Palesa. (Foto: Verskaf)..

Hulle is reeds vir vyf jaar vriendinne. Palesa M is ʼn uitvoerende beampte van ʼn media-agentskap, ambassadeur vir die Verenigde Nasies (VN) en stigter van ʼn niewinsgewende organisasie wat die jeug bemagtig. Palesa N is ʼn digitale ontwerper en albei het onlangs hulle eie modereekse begin.

Palesa N se ouers bestuur die afgelope 25 jaar ʼn restaurant vanuit hul huis en dit is waar sy daarop verlief geraak het om te kook. Palesa M se inspirasie kom van haar ouma, wat haar aan die kombuis blootgestel het op ʼn jong ouderdom en haar verskillende tegnieke geleer het.

Terwyl Palesa M se kookstyl avontuurlustig, kreatief en intuïtief is, is Palesa N s’n meer tradisioneel met ʼn moderne invloed.

“Ons verdeel ons werkslading in die kombuis eweredig en is altyd gretig om mekaar te help. Ons het vir MKR SA ingeskryf omdat dit ʼn wonderlike platform is vir my en Palesa om te doen waarvoor ons lief is – kook. En die kersie op die koek is dat ons dit saam kan doen,” sê Palesa M.

Brett (50) en Aidan (25) – pa en seun van Fourways

Brett en Aidan. (Foto: Verskaf)

Brett en Aidan is die eienaars van die Father & Son-geleentheidsmaatskappy en is onafskeidbaar. Hulle werk, speel en kook saam.

“Hy is my beste vriend. Ek was ʼn enkelpa en die tweeling is nog altyd by my. Ons het saam die wêreld platgereis terwyl ons gholf speel en al drie my kinders beteken die wêreld vir my,” sê Brett.

Daar gaan nie ʼn dag verby wat dié pa en seun mekaar nie sien of met mekaar praat nie. Brett kook reeds van die ouderdom van ses af.

“Ek het met baie kos geëksperimenteer toe ek ʼn kind was. Ek het die lugmag se kombuis bestuur, wat my baie geleer het. Nadat my gholfloopbaan tot ʼn einde gekom het, het ek twee restaurante geopen en baie geleer by die sjefs.”

“Ek is mal oor pap en beesbors (brisket) wat langs die pad verkoop word. Vir R30 kry jy sous en boneslaai daarmee saam. Ek eet dit so gereeld dat ek ʼn rekening het by die man saam met wie ek werk,” voeg Aidan by.

Karen (34) en Tenille (39) – ma’s van Alberton

Karen en Tenille. (Foto: Verskaf)

Karen en Tenille het ontmoet deur hulle mans, wat saam op skool was. Hulle is reeds vir 16 jaar onafskeidbaar.

Karen is ʼn voltydse ma en Tenille is ʼn oogkundige.

“Wanneer die lewe vir my suurlemoene gee, skink ek die tequila,” sê Tenille oor haar positiewe uitkyk op die lewe. Sy is mal oor haar vennoot.

“Sy het ʼn hart van goud en ʼn senuweeagtige giggel wat aansteeklik is.”

Karen beaam dit. “Ons werk goed saam en vul mekaar se leë spasies. Ons proe en bemoedig mekaar. Tenille is ʼn ongelooflik positiewe mens en sal altyd die silwer randjie in enige situasie vind. Sy het my geleer om die situasie te neem en daaruit te leer – en dit positief te maak.”

Hulle geniet dit om Asiese geure te meng met tradisionele geure, maar verkies dit om by hulle wortels te bly. Karen se gunsteling-bestanddeel is botter.

Retha (30) en Tshepi (29) – stralerjakkers van Johannesburg

Retha en Tshepi. (Foto: Verskaf)

Retha en Tshepi is onderskeidelik van Oaklands en Craighall afkomstig. Tshepi is die beplanner en denker, terwyl Retha die wedywerige een is.

“Ek het myself geleer kook en resepte geleer, veral wanneer dit kom by gesonde kos. Dit is vir my belangrik. Gesonde kos kan smaakvol wees, maar ek is altyd nuuskierig oor hoe ver ek my kookvernuf kan druk,” sê Retha.

Tshepi het geleer kook en bak by haar beste vriend en hou daarvan om nuwe goed by haar suster te leer.

“Ek hou daarvan om internasionale resepte te verken, veral Mediterreense kosse en Asiese resepte. Ek hou van groente, veral babaspinasie, broccoli, aspersies, wortels, soetpatats en blomkool,” sê sy.

Nevi (48) en Craig (49) – getroude paartjie van Bedfordview

Nevi en Craig. (Foto: Verskaf)

Nevi en Craig het 20 jaar gelede in ʼn koffiewinkel ontmoet en is 12 jaar getroud. Craig is die direkteur van ʼn gasvryheidsmaatskappy en Nevi is die eienaar van ʼn geleentheidsmaatskappy.

Terwyl Nevi onder druk floreer, raak Craig maklik verbouereerd.

“Ek en Craig hou daarvan om redes te vind om mense en kos bymekaar te bring. Ons kombuis is die lewe en siel van ons huis. Almal kom daar byeen terwyl maaltye gekook word en nageregte voorberei word,” sê Nevi.

“Oor die jare het ons baie komplimente ontvang oor ons kooktalent en verskeie mense het ons aangeraai om vir MKR SA in te skryf. Die tydsberekening was nou perfek.”

Hulle droom is om te reis en die koshoofstede van die wêreld te besoek. “Die eerste ding wat ons doen wanneer ons ʼn vreemde land besoek, is om die kos en kultuur te ervaar. Ons wil betrokke raak by restaurante en eetplekke in die buiteland en moontlik ʼn blog begin waarin ons ons ervaringe kan deel.”

My Kitchen Rules SA sal vanaf Sondag 19 September om 18:00 op M-Net, DStv-kanaal 101, uitgesaai word. Dit sal ook op DStv Catchup en Explora beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan Seerot ·

Ek bly alleen op ‘n plaas in Afrika, diep in die bos. Ek moet my eie kos maak. Ek kan seker nie deelneem nie, maar ek kan doen met ‘n kok/sjef in hierdie reuse kasarm van ‘n huis waarin ek alleen bly.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.