Soorte resepte:

Oor die hoendertand, paradoks in jou wynglas

De Kleine Wijn Koöp Klipkers (Foto: De Kleine Wijn Koöp/Facebook)

Vir wynfynproewers is inligting soos die kultivar, oesjaar, wynkelder, alkoholinhoud of proenotas dalk noodsaaklik, maar Jan Alleman steur hom nie noodwendig aan dié fieterjasies op ʼn wynetiket nie.

Taal- en wynliefhebbers mag dalk anders voel oor treffende Afrikaanse wynname en -etikette wat op kelders se wynrakke pryk. Klink gerus volgende keer ʼn glasie op dié eg-Afrikaanse wyne (in alfabetiese volgorde volgens wynkelder):

De Kleine Wijn Koöp Buffelsfontein Pinotage 2018

Die twee ou wildevybome aan weerskante van die grondpad op Buffelsfontein was eens varsgesnyde latte waarvan ʼn boog gevleg was om Paul Kruger op die plaas te verwelkom. 

Oudpresident Kruger het by sy pa, Casper Kruger, gaan kuier, wat net so ʼn ent verder gebly het. Die latte is nooit uit die grond verwyder nie en het begin groei. Die bome staan vandag as ʼn lewende gedenkteken aan Oom Paul wat eenmaal gesê het: “Afrika voor den Afrikaner”.

De Kleine Wijn Koöp Kreatuur 2018 (77% Mourvèdre/23% Grenache)

De Kleine Wijn Koöp Kreatuur (Foto: De Kleine Wijn Koöp/Facebook)

“Met Mataro of Mourvèdre as my lyf, skop Grenache van agter af – om sodoende my volhoubare, langdurende wyn af te rond en ʼn verkwikkende resep vir die les van jou dors te wees.”

Wynmaker Wynand Grobler vertel dat De Kleine Wijn Koöp Kreatuur ʼn versnitwyn is wat elke jaar ʼn gedaanteverwisseling ondergaan. “Ons gebruik elke jaar ʼn ander dier op die etiket wat lyk soos wat die naam klink.”

Dit word 12 maande lank in 500 liter‑ Franse eikehoutvate verouder.

De Kleine Wijn Koöp Klipkers-reeks

Klipkers, ook bekend as die candlewood tree, is eie aan die Paarlberg en word hoofsaaklik tussen graniet-rotsskeure opgemerk, verduidelik Grobler.

“Behalwe dat dit as vuurmaakhout gebruik word, word dit ook vir sekere boerderyaktiwiteite ingespan. Die bas is destyds gebruik vir looiery en remblokke van waens. Die vruggies van die klipkersboom word ook gretig deur die dassies opgevreet op die Paarlberg.”

Kyk ook na: De Kleine Wijn Koöp Buffelsfontein Pinotage 2018, De Kleine Wijn Koöp Hoendertande Grenache Noir en Pinot Noir 2019.

Doolhof Bloedklip Malbec 2017 (Foto: Doolhof Wine Estate/Facebook)

Doolhof Bloedklip Malbec 2017

Die wynmaker Gielie Beukes verduidelik Doolhof se Malbec-wingerd waar Bloedklip vandaan kom, staan op ʼn baie skuins en vreeslik klipperige stukkie aarde teen die hange van die Limietberg.

“Die wingerd kry inherent so swaar aangesien die grond nie baie goed vog hou nie en dus die plante onder druk plaas,” sê Beukes. “Dit het klein, maar baie gekonsentreerde druiwekorrels en geure tot gevolg.”

Vandaar die naam wat verband hou met die gesegde om bloed uit ʼn klip te tap.

Doolhof Bloedklip Môrestond (Foto: Doolhof Wine Estate/Facebook)

Doolhof Môrestond Chardonnay 2017

Môrestond word gemaak van ʼn wingerd wat teen die oostekant van die ander berg in Wellington, naamlik Groenberg, geplant is, vertel Beukes. “Weens die hoogte van die aanplanting is dit die wingerd wat elke oggend die eerste sonstrale oor die Limietberg in die ooste ontvang.”

Dit is dus nie verkeerd om aan die gesegde die môrestond het goud in die mond te dink nie. “Ons verwys graag na die geleenthede wat die dag bied as jy hom vroeg aangryp,” sê Beukes.

Kyk ook na: Doolhof Riviersteen 2017 (Chenin Blanc).

Donkiesbaai Steen (Foto: Donkiesbaai/Facebook)

Donkiesbaai Steen 2018 (Chenin Blanc)

Die Donkiesbaai Steen se druiwe is afkomstig van die plaas De Tol wat op die Piekenierskloofpas geleë is.

Die bosstok-wingerd waaruit die wyn gemaak word, bestaan uit 34-jarige steendruiwe wat in 1979 gevestig is. Dit is ʼn droëlandwingerd wat afhanklik van winterreën is.

Kyk ook na: Donkiesbaai Afrikaans Volume 2 (2019) en Donkiesbaai Pinot Noir.

Le Sueur Kluisenaar 2018 (Chenin Blanc)

Louis van der Riet, eienaar en wynmaker by Le Sueur, vertel dat hy in 2017 op ʼn Chenin Blanc-wingerd afgekom het wat tussen die afgeleë kranse van Meiringspoort is.

“Ons het van toe af ons druiwe daar gekoop en die etiket van die Chenin Blanc na Kluisenaar verander. Dit sinspeel op die Klein-Karoo as wynstreek wat een kant en vergete gelaat word as daar van gehalte droë wyne gepraat word.”

Dit dui ook op die naam waar dié Chenin Blanc-wingerd geleë is, vertel Van der Riet, tussen die kranse van Meiringspoort.  Weg op sy eie, weg van die res van Suid-Afrika se wynlande.

Le Sueur Paradoks 2018 (50% Pinot Noir/50% Cinsault)

Van der Riet se Paradoks is grootliks deur professor Izak Perold se wynvernuf geïnspireer. Perold is veral bekend vir die ontwikkeling van die Pinotage-druifsoort wat hy in 1925 verkry het deur die kruising van Pinot Noir- en Cinsault-kultivars.

Le Sueur Kluisenaar 2018 (Chenin Blanc) (Foto: Le Sueur Wines/Facebook)

Van der Riet vertel dat Perold die meer geharde kenmerke van, wat toe bekend gestaan het as Hermitage (Cinsault), wou gebruik om Pinot Noir meer aanpasbaar vir die Suid-Afrikaanse klimaat te maak.  Hy het die saadjies van sy kruisbestuiwing in sy tuin by Welgevallen uitgeplant, maar is in 1941 dood voor hy die wyn kon maak en proe. Perold is dood in die tyd waar die wingerd gegroei het en vermeerder kon word om genoeg druiwe te kry om wyn van te maak.

“Die idee dat Perold nooit die wyn geproe het wat van hierdie skepping af gekom het nie, het vir jare in my kop rondgemaal,” vertel Van der Riet. “Die vraag of Perold eindelik tevrede sou wees met die wyn wat sy skepping Pinotage sou oplewer, het telkens opgeduik.”

Met dit in gedagte wou Van der Riet nog altyd ʼn wyn maak wat hy glo nader aan die wyn is wat Perold aanvanklik wou skep toe hy twee kultivars gekruis het. Van der Riet het in 2015 die eerste Pinot Noir-Cinsault versnit onder die Le Sueur Paradoks-etiket gebottel.

“Dit was ook die eerste keer wat Pinot Noir en Cinsault saam in ʼn versnit in Suid-Afrika gebottel en geëtiketteer is.  Die Le Sueur Paradoks is dus ʼn Pinotage in wetenskaplike terme waar een plus een gelyk aan twee is, maar dit is ʼn paradoks ten opsigte van wat Pinotage as wyn is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Elmarie

Ek is MAL hier oor! Ek hoop die name se herkoms verskyn erens op die etiket?