Soorte resepte:

PappaChef sorg vir kosstories op jou radio

Pieter Malan (Foto: Verskaf)

Deur: Janie Monsieur

Pieter Malan (28) van Kokkedoor-faam het onlangs ʼn vars nuwe radio-kosprogram bekendgestel genaamd Die PappaChef Show.

Malan het in 2019 aan die realiteitsreeks Kokkedoor deelgeneem, en hoewel hy derde geëindig het, het hy besluit om steeds sy drome na te jaag. Sy resepteboek kom later vanjaar uit en sy radio‑ en videoprogram PappaChef is ook reeds in produksie.

Hy vertel dat die idee agter PappaChef begin het toe hy tot laataand as ʼn sjef by restaurante gewerk het. Sy vrou was gedurig vir hom kwaad en hy het agtergekom dat sy vriende dieselfde probleem het.

“Ons was ʼn groep mense wat soort van op dieselfde tyd almal kinders gehad het, en as die mans laat by die huis kom, is ons vroue vies omdat ons nie met die kinders help nie,” vertel hy.

Malan en sy vriende het toe ʼn WhatsApp-groep begin waar hulle mekaar uitdaag om ten minste een ding te doen om hul vrou met die babas te help wanneer hulle in die aand by die huis kom. Hulle het dit die #bottelchallenge gedoop omdat hulle gekyk het wie die vinnigste die meeste bababottels kan was.

Dié groep het toe later idees vir babakosresepte begin deel, en so het PappaChef begin.

Die PappaChef Show saai op 14 radiostasies uit en Malan kry elke week ʼn nuwe bekende gas om hul kosstories te deel. Direk na afloop van die radioprogram kan aanhangers ook op die radiostasies se sosiale media inskakel om te kyk hoe Malan die kos maak waaroor hy op die radio gesels het.

Die eerste reeks het 12 episodes wat saam met die nuwe jaar afgeskop het. Bekendes soos Kurt Darren, Schalk Bezuidenhout, Mila Guy, Fatman en Nicholis Louw maak almal ʼn verskyning op dié program.

Malan sê hy wou die kultuur van kosradio weer terugbring deur Die PappaChef Show.

“Van my lekkerste herinneringe as ʼn kind was om in die middag na skool saam met my ouma na Errieda du Toit op RSG te luister,” vertel hy.

“Kosradio het op ʼn stadium doodgeloop en mense het nie meer oor kos gesels nie, en dit is juis die rede: Errieda het altyd stories vertel en oor kos gesels, eerder as om resepte af te lees soos hulle nou op radio doen.”

Malan sê hy wou weer ʼn program begin waar kosstories en -herinneringe gedeel kan word omdat kos nie net kos is nie, maar gevoel en emosie ook meebring.

“Maak nie saak watter kos dit is nie, ek wil altyd die storie agter die kos hoor. En hoeveel lekkerder as iemand soos Kurt Darren dit vir jou vertel.” sê hy.

Malan is sélf ʼn pa van twee kinders, een van twee jaar en een van nege maande. Hy wil graag ʼn hulpmiddel vir ander pa’s wees wat nie presies weet hoe om hul rol as pa te vervul nie, maar steeds ʼn aktiewe rol wil speel.

“Ek dink dis cool dat pa’s ook betrokke raak by al die fasette van ʼn baba grootmaak. Ek wil vir nuwerwetse pa’s wys dat hulle steeds betrokke kan wees al hou hulle ook van rugby en braai.”

Malan verwys byvoorbeeld na ʼn resep waar jy ʼn botterskorsie vir jou baba op die braai kan gaarmaak, ʼn paar ander bestanddele daarmee meng en dan ʼn heerlike maaltyd vir jou baba het.

Malan sê televisieprogramme soos Kokkedoor hou Suid-Afrika se ryk kosgeskiedenis aan die gang. “Maar wat van die duisende mense wat nie DStv het nie?” vra hy.

Daarom fokus hy op radio en sosiale media, sodat almal wat saam wil luister, dit gratis kan doen.

Vir meer inligting oor Die PappaChef Show, besoek die Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anna Mostert ·

Die program is op Radio Namakwaland, luister dit daar!

JOHAN ·

Toevallig. In polokwane het ons ‘n radio stasie met die naam JouRadio

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.