Soorte resepte:

Piekfyn wyn sonder pyn

Deur Riana Crafford

(Argieffoto: Pixabay)

Toe Suid-Afrikaners weer wynloos gelaat is na die president se aankondiging tydens die vorige “familievergadering”, kon ons net droom van die wyne wat ons nog wou gaan koop.

Dit is hoogtyd dat jy vir jou ’n persoonlike wynkenner “aanstel” om jou te help om die regte wyn te kies en te bestel: ’n wyn wat ideaal is vir die geleentheid, jou persoonlike smaakvoorkeure bevredig én in jou prysklas val.

Wie weet, miskien kom dit jou goed te pas – veral tydens die vierde vlaag van die virus. Dan kan jou “persoonlike wynkenner” jou help om beter wynkeuses te maak en maak dit die wagtydperk tot jou wyn weer afgelewer mag word, meer draaglik.

Waar kan jy hierdie “persoonlike wynkenner” in die hande kry? Maklik: al wat jy hoef te doen, is om ʼn wynproewers-app op jou selfoon af te laai. Een so ’n app is dié van Vivino.

(Foto: Skermskoot/Vivino)

Vivino verteenwoordig die wêreld se grootste aanlyn wynmark. Groot data en kunsmatige intelligensie (KI) word gebruik om mense te help om hul eksieperfeksie wyne te vind. Dit alles sonder dat dit jou ʼn sent kos.

Jy moet net ’n foto van ’n bottel wyn se etiket neem, en dan kan jy dadelik die wyndrinkende publiek se aanlyn resensies van dié spesifieke wyn lees. Jy kan sommer ook die prys uitvind en selfs ’n bestelling plaas; alles ewe gerieflik van jou selfoon af. Jy kan ook wynlyste in restaurante skandeer om jou te help om die regte wyn te kies wanneer jy by ’n lekker restaurant eet.

Vivino se unieke wyninkopie-ervaring word geheel en al deur gemeenskapsdata gedryf – 20 000 nuwe gebruikers laai daagliks die app af. Die toepassing gee gebruikers toegang tot die volgende inligting: sowat 1,5 miljard foto’s van wynetikette, 200 miljoen graderings en 10 miljoen wyne. Dis groot! Hierdie groot data is die sleutel tot Vivino se besigheid, en hulle sowat 50 miljoen gebruikers help hulle om dit in stand te hou.

Die Vivino-app kan jou vertel of die wyn glad of droog genoeg op die tong is om jou smaak te bevredig, of dit goed by jou maaltyd pas en selfs of dit goeie waarde vir geld is of nie. Nadat jy die wyn geproe het, kan jy jou eie waarneming op die app inlees en dit sal dan daardie inligting by jou profiel voeg om die app se kennis van jou smaak en voorkeure uit te brei.

Vivino het onlangs KI in hul algoritmes ingebou wat persoonlike aanbevelings vir elke gebruiker genereer na aanleiding van hul waarnemings- en profieldata. Sodra jy minstens vyf wyne gegradeer het, sal elke wyn in die databasis ʼn telling hê wat aandui of daar ʼn goeie, matige of geringe kans is dat jy persoonlik daarvan sal hou.

Hierdie aanbevelings word spesifiek vir jou gegenereer, aangesien dit mos so is dat jy nie noodwendig gaande oor ander wyndrinkers se wennerwyne sal wees nie.

As jy tot hier toe gelees het en gedink het dat KI vernuftig is, hoor ʼn bietjie wat dit nóg vir wyndrinkers kan doen: Glo dit of jy nou wil of nie, maar KI kan selfs nou proe!

In die uiters mededingende wynindustrie, waar baie wynmakers net één kans per seisoen het om ʼn goeie wyn te maak, is al hoe meer wynmakers op soek na nuwe maniere om te voorspel waarvan wyndrinkers sal hou.

Deesdae gebruik Tastry, ʼn maatskappy wat in sintuiglike wetenskappe spesialiseer, KI en gevorderde chemie om te leer hoe om te “proe”. Hierdie tegnologie bevorder die wynbedryf deur waardevolle inligting aan wynmakers te verskaf oor die wyne wat hulle klante geniet.

Tastry se tegnologie ontgin geurprofiele deur duisende wyne in hul laboratorium chemies te ontleed. Tastry identifiseer dan die unieke palet van elke individu wat aan hul meningsopnames deelneem. (Verbruikers se palette is soos vingerafdrukke – geen twee is ooit dieselfde nie.) Die KI gebruik dan hierdie data oor verbruikers se smaak en oor die verskillende wyne se geurprofiele om wyndrinkers se voorkeure met ʼn akkuraatheid van meer as 92% te voorspel.

(Foto: Skermskoot/BottleBird)

Elke individu het ʼn unieke smaakervaring. BottleBird, Tastry se app, vra gebruikers uit oor hul persoonlike smaak- en reukvoorkeure (insluitend vrae oor dinge soos koffie, tabak en asyn). BottleBird se KI gebruik dan weer hierdie inligting oor elkeen se persoonlike voorkeure om aanbevelings te maak.

Wynmakers en kleinhandelaars kan nou werklike data oor hul kliënte gebruik. Hierdie benadering maak Tastry anders as programme soos Vivino, wat staatmaak op historiese aankoop- en graderingsdata.

Die app se aanbevelings help wyndrinkers om wyn met groot sukses in ʼn winkel, restaurant, kroeg of wynkelder te kies. Hulle leuse: “Moet nooit weer geld op ʼn slegte bottel wyn mors nie.”

Verbruikers word selfs in staat gestel om wyne te vind wat hoogs geskik is vir hul vriende, sodat hulle geskenke kan gee wat elke keer in die kol is.

As jy ʼn wynliefhebber is, hoop ek bogenoemde het jou geïnspireer om nou dadelik op jou slimfoon te spring en na daardie ideale wyn te begin soek. Dit is ʼn aangename tydverdryf terwyl jy sit en wag dat die pandemie sy loop moet loop en jy eendag weer ʼn wynplaas sal kan besoek.

Daar is wel een sakie waaraan Suid-Afrikaanse wyndrinkers aandag kan gee. Die meeste van die wyne op hierdie toepassings word in die sogenaamde “Ou Wêreld” geproduseer. Dit is nou in Europa. Die “Nuwe Wêreld”, waarvan ons Suid-Afrikaanse wyne maar ʼn druppel in die emmer is, se wyndata is ver in die minderheid. Van die sowat 1,5 miljoen wat in Vivino se databasis opgeneem is, kom ʼn miljoen uit Europa en minder as ʼn halfmiljoen uit die res van die wêreld. Maar ek is nie oortuig dat die Europeërs regtig soveel meer wyn maak nie. Is hulle nie net soveel meer op hulle wyndrinkkultuur ingestel nie?

In daardie geval het Suid-Afrikaanse wynliefhebbers dalk ʼn geleentheid om ons wynprodusente te “red” na al die afgelope gedwonge alkoholvrye maande. Dis dalk ʼn relatief eenvoudige manier om ons produsente te help om hulle sigbaarheid in die oorsese mark te verbeter. Kom ons kyk hoeveel Suid-Afrikaanse wynetikette en -resensies ons kan oplaai terwyl ons wag dat ons gunstelingwyne afgelewer mag word. Ons kan dan ook sommer webbesonderhede van ons geliefde Kaapse wynmakers in die app oplaai.

Hoe lyk dit, gaan ons die Suid-Afrikaanse wyn- en toeristebedryf op hierdie manier ʼn hupstootjie gee? Die vet weet, na al die inperkings en beperkings op drankverkope het hulle dit bitter nodig.

Met dank aan Bernard Marr, futuris en blogskrywer. Verwys gerus na sy blogs oor KI.

  • Riana Crafford is ʼn dosent in bedryfsinligtingstelsels aan Akademia.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.