Soorte resepte:

Pienkveldtog ten bate van borskanker

In Oktober word R1 van elke pienk mandjie met vars sampioene wat Pick n Pay-winkels landswyd verkoop aan Reach for Recovery (R4R) se Ditto-projek geskenk. (Foto: Verskaf)

Oktober is Borskanker-bewustheidsmaand en ter ondersteuning hiervan word R1 van elke pienk mandjie met vars sampioene wat Pick n Pay-winkels landswyd verkoop aan Reach for Recovery (R4R) se Ditto-projek geskenk.

R4R se projek word jaarliks deur die Suid-Afrikaanse Sampioenkwekersvereniging se Power of pink-veldtog befonds. Die veldtog is in 2011 van stapel gestuur met die doel om gratis silikoonprosteses te verskaf aan persone wat nie borsrekonstruksie kan bekostig nie ná hulle ʼn mastektomie ondergaan het.

Ondanks hul eie finansiële uitdagings wat deur die wêreldpandemie veroorsaak is, het Suid-Afrikaners in 2020 bykans R700 000 tot die Power of pink-veldtog bygedra. Dit is die grootste bedrag wat ingesamel is sedert die ontstaan van die projek en tot op hede is net minder as 8 000 prosteses ter waarde van R5,5 miljoen aan borskankeroorlewendes voorsien.

“Ons kan nie trotser wees op ons verbintenis met R4R se Ditto-projek nie,” sê Ross Richardson, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Sampioenkwekersvereniging.

“Die toewyding van die R4R-vrywilligers en die vriendelikheid van alle Suid -Afrikaners wat die Power of pink-veldtog ondersteun, is ʼn getuienis van mense se goedhartigheid.”

Mense word aangemoedig om hierdie veldtog, wat tot einde Oktober duur, te ondersteun deur vars sampioene in pienk mandjies by Pick n Pay-winkels te koop.

Probeer gerus hierdie resep wanneer jy jou pienk mandjie met sampioene gekoop het:

Sampioen-oesbord. (Foto: Suid-Afrikaanse Sampioenkwekersvereniging)

Sampioen-oesbord

Bestanddele:

GEPEKELDE BLOMKOOL

  • 1 koppie appelasyn
  • 1 koppie water
  • 1 e swart mosterdsaad
  • 2 e seesout
  • 2 e suiker
  • 1 klein blomkool, in blommetjies gesny/300 g blomkoolblommetjies

ADVOKADOSOUS

  • 1 avokado, ontpit
  • ¼ koppie olyfolie
  • 2 e suurlemoensap
  • 2 e bloedlemoensap
  • 2 e vars basiliekruidblare, gekap
  • ½ knoffelhuisie, gerasper
  • ½-¾ k koue water
  • sout en peper na smaak

OESBORD (“HARVEST BOWL”)

  • 8 Brusselse spruite, in die helfte gesny
  • olyfolie
  • sout na smaak
  • 2 e botter
  • 250 g wit knopiesampioene, in skywe gesny
  • 1 e sojasous
  • 2 k babaspinasie
  • 1 k gekookte wilde-en‑bruinrysmengsel
  • ½ k pers kool, gerasper
  • ½ k edamamebone, gestoom
  • ½ k gepekelde blomkool/blomkoolblom
  • 2 e geroosterde gemengde sade
  • bloedlemoenwiggies, om voor te sit

Metode:

GEPEKELDE BLOMKOOL

  1. Gooi al die bestanddele behalwe die blomkool in ʼn middelslagkastrol.
  2. Meng en bring tot kookpunt.
  3. Plaas blomkool in ʼn groot hittebestande pot. Giet die warm pekelvloeistof bo-oor.
  4. Laat afkoel in die pot en verseël dan en hou in die yskas. (Pekelvloeistof kan tot ʼn week vooraf gemaak word.)

ADVOKADOSOUS

  1. Meng al die bestanddele in ʼn menger (blender) en geur liggies.
  2. Meng tot romerig, voeg ekstra water by indien nodig om ʼn gladde tekstuur te verkry.
  3. Skep in ʼn houer en bêre in die yskas vir opdiening.

VIR DIE OESBORD (“HARVEST BOWL”)

  1. Sprinkel die Brusselse spruitjies met ʼn bietjie olyfolie en sout.
  2. Plaas in ʼn gietysterpan op medium‑hoë hitte.
  3. Kook tot verkool aan die gesnyde kant en sag. Sit dit eenkant.
  4. Voeg die botter in dieselfde pan en voeg die sampioene by.
  5. Soteer die sampioene tot goudbruin.
  6. Skakel die hitte af, giet die sojasous oor en meng.
  7. Geur met swartpeper.
  8. Verdeel die babaspinasie as ʼn basis tussen die twee bakkies.
  9. Verdeel die rys, pers kool, edamamebone, gepekelde blomkool, verkoolde Brusselse spruite en sampioene eweredig en in klein hopies.
  10. Besprinkel al die bestanddele met die geroosterde sade.
  11. Bedien met ʼn skyfie bloedlemoen en die avokadosous langsaan.

Bron: Suid-Afrikaanse Sampioenkwekersvereniging

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.