Soorte resepte:

Portugese melktert vir Jo da Silva

Pastel de nata (meervoud: pastéis de nata) is ʼn soort melktert met donker karamellisering bo-op. (Foto: Verskaf)

In die slotepisode van Martelize se stamtafel kuier die sepiester Jo da Silva saam met Martelize Brink. Hulle gesels oor Jo se Portugese herkoms en Martelize maak bifana en pastéis de nata.

Pastel de nata (meervoud: pastéis de nata) is ʼn nagereg uit Portugal. Dit is ʼn soort melktert met donker karamellisering bo-op. ʼn Swart pot en die bloedige hitte van ʼn vuur is perfek om dié nagereg te bak.

“Ek het dit die eerste keer vir Martelize se stamtafel gemaak. Dit was deur en deur een van die lekkerste nageregte wat ek nog voorgesit het. Ek het ʼn bietjie speserye in die vorm van kardamom bygevoeg wat ʼn verdere geurlaag aan dié tradisionele nagereg gee,” vertel Brink.

Maak Martelize se Portugese melktert só:

Bestanddele

  • botter om pot mee te smeer

Vir die stroop

  • 1½ k witsuiker
  • ½ t kaneel of 1 groot kaneelstokkie
  • 4 kardamomsade
  • 2 suurlemoene se skil
  • ½ k water

Vir die vlavulsel

  • 1½ k volroommelk
  • 60 ml koekmeel
  • ½ t sout
  • 6 ekstragroot eiergele
  • 2 e vanieljegeursel of 1 heel vanieljepeul

Vir die deeg

  • 1 rol skilferkorsdeeg

Metode

  1. Smeer jou swart platpot goed met botter.
  2. Plaas die suiker, kaneel, kardamom, suurlemoenskil en water in ʼn pot en prut. Moenie roer nie.
  3. Klits die melk, meel en sout saam in ʼn pan en prut tot die mengsel begin verdik. Verwyder van hitte en laat afkoel.
  4. Klits die 6 eiergele.
  5. Meng die eiergele en die melk-en-meelmengsel saam.
  6. Voeg driekwart van die suikermengsel by die ander bestanddele. Hou die res eenkant om oor die tert te giet sodra dit klaar gebak het.
  7. Neem die bottergesmeerde platpot en voer dit uit met die skilferkorsdeeg.
  8. Jy sal dalk die deeg ʼn bietjie moet uitrol om die pot mee uit te voer.
  9. Druk die pasteideeg liggies onder in die pot vas en langs die kante op tot ten minste 3 of 4 cm hoog. Sny oortollige deeg met ʼn mes af.
  10. Giet die vulsel deur ʼn sif in die pot. Dit behoort die deegholte tot bo te vul.
  11. Plaas die pot oor matige kole.
  12. Sit die deksel op met baie warm kole, asook ʼn paar stompies wat aan die brand is, bo-op.
  13. Pastéis de nata is bekend vir stukkies wat baie donkerbruin karamelliseer tydens die bakproses. Bak vir 12 minute en kyk of die tert al donker verkleur het bo-op. Na 12 minute sal die tert gaar wees. Besluit gerus self of jy dit nog ʼn paar minute kans wil gee om bo-op donkerder te bak. Plaas dan die deksel met daardie brandende stompe weer terug.
  14. Giet die res van die stroopmengsel oor die tert sodra dit klaar gebak het.
  15. Jy kan die tert direk uit die pot in stukke sny en bedien of probeer om dit uit die pot te laat gly nadat dit effe afgekoel het. Maak seker die rante kom maklik los. Lig die tert onder met ʼn spaan en kantel die pot om te verseker dat die tert maklik uitgly.

Het jy geweet? Die meeste Suid-Afrikaners met ʼn Portugese herkoms se oorsprong is in Madeira, en Jo se voorouers kom ook van hier af. Haar van, “Da Silva”, is ʼn toponiem wat beteken “van die woud” – vanaf die Latynse “silva” vir woud.

Martelize Brink se pastéis de nata (Portugese melktert). (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AW ·

Botter so deur die jare het ook maar ” lekker” duur geword!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.