Soorte resepte:

Resensie: 50 Sop- en broodgeregte

Deur Louise Viljoen

Hier in die Viljoen-huishouding is sop en brood ons gunsteling hartskos. Ek kook minstens een maal per week ’n voedsame pot sop en druk ’n broodjie in die oond. Sop en brood maak nie net ons mae vol nie, maar dit bring ook ’n warmte in ons siele. Dis immers geselskos.

Wie kuier nou nie lekker om ’n bakkie sop en skaapwagtersnye varsgebakte brood nie? En die dag as ’n liederlike griepgogga jou beetkry, is daar min dinge wat so vertroostend is soos tuisgemaakte sop en brood.

Die 50 resepte in hierdie boek is almal wenners. Nie net is dit tydbesparend nie, dis boonop ekonomies ook. Hoe klink immergewilde boontjiesop, beesstertsop, lensiesop en pampoensop vir jou? Dan is daar ook kerrievissop, snoeksop, Hollandse vissop en romerige salm-en-mosselsop.

Ek gaan beslis die Skotse kragsop en die wildsvleissop probeer. Saam met die sop van jou keuse kan jy ’n karringmelk kruiebroodjie voorsit. Of wat van ’n maklike kaiingpotbrood, knoffel-en-tamatie focaccia en selfs ’n vars-uit-die-oond melkbrood?

Koop hierdie resepteboek. Jy gaan die resepte wil uittoets die oomblik as jy daardeur begin blaai. Ek het hoeka ’n pot ertjiesop op die stoof en ’n bruismeelbroodjie in die oond. Koebaai, wêreld!

Die boek word uitgegee deur LAPA Uitgewers
Prys: R150-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by 
Graffiti Boeke

Louise Viljoen is ‘n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.