Soorte resepte:

Resensie: Clover Gunsteling Suid-Afrikaanse Kos

Deur Louise Viljoen

Hierdie resepteboek bevat ʼn wonderlike verskeidenheid tradisionele kosgunstelinge wat die inheemse kulture van ons land se diverse kostradisies vier.

Dit is propvol ou bekende resepte wat jou mond laat water. Jy raak skoon nostalgies as jy deur die boek blaai en jou verlustig aan Elmarie Knapton se pragfoto’s van disse en gebak wat jy kén, want jou ma en ouma het dit voorgesit. Dis onthoukos. Hartskos. Staatmakerkos.

Bobotie, herderspastei, outydse hoenderpastei, bunny chow, viskoekies, romerige marog, toffiepatats, koekstruif… raak jy al lus?

Trek jou asem diep in en verbeel jou jy ruik die heerlike geure van goudbruin gebakte botterhoender, lamsboud in Amasi, gestoofde groenboontjies en paptert. Hoe klink Peppermint Crisp-tert, Indiese ryspoeding en boeber vir nagereg? Ek gaan beslis die liplekker roosterkoek maak wanneer manlief weer ‘n vleisie op die kole gooi. Loer gerus na die voorblad en jy sal sien hoekom.

Clover, ‘n gesogte handelsmerk in Suid-Afrika, se produkte is sinoniem met kwaliteit en smaak. Hulle gee jaarliks ‘n resepteboek uit wat watertandresepte bevat wat van Clover-produkte gemaak is. Marlo Kitshoff-Carstens het al 85 resepte in hierdie publikasie noukeurig getoets sodat jy met gerustheid na hartelus kan bak en brou.

‘n Persentasie van die resepteboek se verkope gaan aan die Clover Mama Afrika-projek. Lees hier meer oor die projek. https://www.clovermamaafrika.com/

Die boek word uitgegee deur LAPA Uitgewers
Prys: R200-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by Graffiti Boeke

Louise Viljoen is ʼn vryskutresensent van Jeffreysbaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.