Soorte resepte:

Resep: Appelkoos-muffins

Appelkoos-muffins. (Foto: Lapa-uitgewers)

ʼn Lekker konfytkoekie met ʼn neuterige bolaag.

Lewer 12 muffins

Bestanddele

  • 100 g sagte droë-appelkose
  • 60 ml vars lemoensap
  • 180 g bruismeel
  • 5 ml bakpoeier
  • 2,5 ml sout
  • 70 g hawersemels (oat bran)
  • 60 g klam bruinsuiker
  • 2 groot eiers, geskei
  • 30 ml sonneblom- of kanolaolie
  • 175 ml ongegeurde laevetjogurt
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 80 g fyn appelkooskonfyt
  • 40 g pekanneute, gekap

Metode

  1. Sny die appelkose met ʼn kombuisskêr in klein stukkies. Week dit vir 20 minute in die lemoensap.
  2. Voorverhit die oond tot 180 °
  3. Sif die bruismeel, bakpoeier en sout saam en roer hawersemels en 50 g bruinsuiker by.
  4. Klits die eierwit styf. Klits die eiergeel, olie, jogurt en vanieljegeursel saam. Voeg die geweekte appelkose, lemoensap en jogurtmengsel by die droë bestanddele. Meng liggies tot net gemeng en vou die eierwit in.
  5. Skep die helfte van die deeg in ʼn gesmeerde muffinpan en skep dan 5 ml appelkooskonfyt in die middel van die deeg in elke muffinpannetjie. Skep die oorblywende deeg oor die konfythopie en maak gelyk.
  6. Meng die gekapte neute met 10 g bruinsuiker en strooi dit eweredig oor die muffins. Bak vir 18 tot 20 minute tot goudkleurig en gaar.
  7. Laat die muffins tot louwarm afkoel in die pan sodat die konfyt kans kry om te stol en die muffins makliker hanteerbaar is.

Variasie

Vervang die appelkose met gedroogde peerhelftes of appelringe en week dit in peer- of appelsap. Vervang die appelkooskonfyt met aarbei- of youngbessiekonfyt.

Bron: Uitpakkos deur Hilda Lategan

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Eend Bessinger

Dis nou ‘n lekker tussenin-happie of alternatiewe ontbytkos!