Soorte resepte:

[Resep] Basiese mayonnaise en ander variasies

Foto: Bottel & Gebruik

Basiese mayonnaise en ander variasies. Foto: Bottel & Gebruik

Lewer ± 500 ml

Bestanddele:

  • 3 eiergele
  • 10 ml Dijonmosterd
  • 10 ml witwyn- of druiweasyn
  • 400 ml olyfolie (of 200 ml olyf- en 200 ml sonneblomolie)
  • 3 ml sout
  • knippie fyn swartpeper

Metode:

Tradisionele klopmetode

  1. Klop die eiergele, mosterd en asyn vir ʼn minuut of twee met ʼn draadklopper of houtlepel tot dit dik en romerig is. Giet die olie in ʼn beker.
  2. Voeg die olie drupsgewys by die eiermengsel terwyl voortdurend geklop word tot ± 30 ml bygevoeg is. Die mengsel sal nou baie dik wees. Die res van die olie word nou in ʼn dun straaltjie bygevoeg terwyl aanhoudend geklop word tot die mengsel dik en glansend is.
  3. Nadat die olie geabsorbeer is, word die geurmiddels na smaak bygevoeg. Proe en voeg nog by indien verlang.
  4. Skep dit in gesteriliseerde bottels en verseël. Bewaar dit in die yskas.

Variasies:

Geroosterde-knoffel-mayonnaise

  • Halveer ʼn heel bol knoffel horisontaal. Plaas dit op ʼn bakplaat met die gesnyde kante na bo, sprinkel olie oor, strooi sout oor en rooster dit ʼn uur lank teen 150 °C of tot sag. Laat afkoel. Druk die knoffelpuree uit, maak dit fyn en roer by die mayonnaise.

Geroosterde-soetrissie-mayonnaise

  • Rooster soetrissies met die velkant na bo onder ʼn oondroosterelement tot swart. Sit dit dadelik in ʼn plastieksak, bind toe en laat afkoel. Trek die swart skilletjies af en kap die soetrissies fyn in ʼn voedselverwerker. Voeg dit by die mayonnaise.

Wasabi-en-gemmer-mayonnaise

  • Voeg 30 ml wasabipasta, 15 ml sojasous, 15 ml vars gerasperde gemmer, 25 ml vars suurlemoensap en 15 ml vars gekapte koljander by.

Suurlemoen-en-kruie-mayonnaise

  • Voeg 25 ml vars suurlemoensap, 10 ml fyngerasperde suurlemoenskil en 50 ml vars gekapte gemengde kruie by.

Tamatie-en-rissie-mayonnaise

  • Voeg 1 ontpitte, fyngekapte rooi brandrissie,  tamatiepuree, 15 ml bruinsuiker en 25 ml vars gekapte basiliekruid by.

Gerookte-paprika-mayonnaise

  • Voeg 20 ml paprika (verkieslik gerookte Spaanse paprika), 25 ml suurlemoensap, 15 ml sojasous en 2 gekneusde knoffelhuisies by.

Bron: Bottel en gebruik
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Santie ·

Party goed is beter om te koop as om te maak, as ek koop weet ek, of wil ek nie weet, of wil ek nie dink aan die rou eier nie, maar as ek dit self maak, sien en beleef ek die rou eier en gaan ek beslis nie my mond aan my eie tuisgemaakte mayo kan sit nie. Ek maak geen resep met n rou eier nie, en in my driehoek-yskastert, los ek die rou eier uit en hy kom net so lekker. Ek is lief vir eier, maar rou! Nee, nooit. Ek gril my dood. Ek klink soos my kleinding van 3, eendag vir haar gevra uit n grap uit, kan ek koeimelk oor jou pappies gooi, nee sê sy geskok, gooi Pick n Pay se melk op, dit kom mos nie van koeie af nie,….ja, wat ons nie weet nie gaan makliker in die keel af.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.