Soorte resepte:

[Resep] Bruinrys en lensies

Foto: Verskaf

Het jy geweet dat bruinrys en lensies saam ’n volledige proteïen vorm? Dit is dus geen verrassing dat dit ’n gewilde kombinasie vir vegetariese etes is nie. Die neuterige smaak van die basmati-rys in hierdie resep is ekstra lekker met die speserye en vars bestanddele. Die rys en lensies word met komyn, kaneel en kruie geprut om dit nog meer geurig te maak. Geniet die resep as vleislose ete of berei dit selfs as bygereg as jy liewer ook ’n stukkie vleis daarby wil eet. Met die rysmengsel wat oorbly, kan jy die volgende dag ’n heerlike slaai maak om selfs in ’n kosblik te pak. Gebruik jou eie van vars slaaibestanddele en giet ʼn skeut olyfolie as slaaisous oor.

Resep aangepas uit Cooking from the Heart 1

Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele:

  • 10 ml (2 t) avokado- of olyfolie
  • 2 uie, gekap
  • 2 knoffelhuisies, fyn gekap
  • 2 wortels, gehalveer en in skyfies gesny
  • 2 selderystingels, in skyfies gesny
  • 5 ml (1 t) gemaalde komyn
  • 5 ml (1 t) gedroogde gemengde kruie
  • 1 lourierblaar
  • 1 kaneelstokkie
  • 250 ml (1 k) rou bruin lensies
  • 250 ml (1 k) rou bruin basmati-rys
  • 750 ml (3 k) water
  • 2,5 ml (½ t) sout
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak
  • 30 ml (2 e) gekapte vars Italiaanse pietersielie of koljanderblare

Metode:

  1. Voorverhit olie in ’n kastrol (gebruik ’n AMC 20 cm High) en braai uie, knoffel, wortels en seldery vir ’n paar minute.
  2. Voeg komyn, gedroogde gemengde kruie, lourierblaar en kaneelstokkie met die lensies, rys, water en sout by.
  3. Bring oor matige hitte tot kookpunt, verlaag die hitte en prut met ’n deksel vir 30-40 minute of tot die rys en lensies gaar, maar nie pap is nie. Voeg nog 125 ml water by, indien nodig.
  4. Geur met suurlemoensap en peper en roer die kruie by. Sit warm voor of sien wenk.

Wenk

  1. ’n Slaai vir kosblikke: Laat die rys en lensies heeltemal afkoel en roer geblansjeerde groente, soos broccoli en groenboontjies by die mengsel. Roer repies rooi soetrissies met nog vars kruie by en sit as ’n slaai voor. Dit is perfek vir kosblikke. Voeg ook vars avokado en sade, soos sesam- of sonneblomsaad by, indien verkies.

Kyk elke Maandagoggend saam na #Kosblik, op Die Groot Ontbyt, op kykNet se kanaal 144 waar ek oor smullekker en maklike resepte gesels. Volg my op Facebook www.facebook.com/HeleenMeyerFood of besoek my webwerf www.heleenmeyer.co.za as jy dalk ’n vorige insetsel gemis het of na nog resepte opsoek is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.