Met hierdie resep hoef jy nie verder te soek vir jou volgende maaltyd nie.
Lewer 5 porsies
Bestanddele
- 400 g maer beesmaalvleis of gemaalde volstruis- of hoendervleis
- 2 snye dag oue bruinbrood, gekrummel (90 g)
- 1 klein wortel, geskraap en fyngerasper (50 g)
- 1 middelslag ui, geskil en gekap (100 g) – 50 g vir frikkadelle en 50 g vir sous
- 2 knoffelhuisies, gekap – 1 huisie vir frikkadelle en ander vir sous
- 2,5 ml sout
- 1,25 ml gerasperde neutmuskaat
- 1 ekstragroot eier, liggies geklits (60 g)
- 20 ml Worcestersous
- 20 ml tamatiesous
- 200 g eiervrug, met skil in blokkies gesny, 15 min in soutwater geweek
- 15 ml kanola- of olyfolie
- 300 g vars jong of gewone spinasie, harde wit stingels uitgesny en blare fyngesny
- 400 g-blik geskilde heel tamaties in tamatiesap, fyngekap
- 1,25 ml sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
Metode
- Meng die maalvleis, broodkrummels, wortel, 50 g ui, knoffelhuisie, sout, neutmuskaat, eier, Worcester- en tamatiesous. Rol 10 x ± 65 g-porsies vleismengsel in stewige frikkadelle. Rangskik dit in ’n enkel laag in ’n braaipan. Voeg 100 ml kookwater by en prut 15 tot 20 minute tot gaar.
- Dreineer die eiervrug, spoel af met skoon water, dreineer weer en druk droog. Verhit die olie en roerbraai 50 g ui, die knoffelhuisie en eiervrug tot sag en gaar. Roer die spinasie by en verhit totdat die blare verwelk is. Voeg die tamatiesous en -sap by en prut 10 tot 15 minute. Geur die sous, draai die frikkadelle om en skep die sous oor. Prut dit vir 5 tot 10 minute.
- Bedien met pasta, kapokaartappels of mieliepap.
Bron: Veselryk
Uitgewer: Lapa