Soorte resepte:

Resep: Groente-kebabs

Groente-kebabs. (Foto: Braaigeregte/Lapa Uitgewers)

Maak hierdie groente-kebabs wanneer jy na ’n gesonde plaasvervanger vir ’n braai se bykos op soek is.

Lewer 1 groot of 2-3 klein snoepkebabs per persoon en ’n paar ekstra.

Bestanddele

Geskikte groente

  • vla-pampoentjies, heel, gehalveer of in kwarte gesny
  • murgpampoentjies, diagonaal gesny
  • kersietamaties
  • knopiesampioene, stingels verwyder
  • mielies, in die mikrogolfoond versag en in ringe gesny
  • enige pampoen, in blokkies gesny (in mikrogolfoond versag, indien nodig)
  • wortels, in dikkerige ringe gesny (in mikrogolfoond versag, indien nodig)
  • groterige blokkies rooi, groen of geel soetrissie
  • eiervrug in groterige stukke of blokkies gesny
  • piekeluitjies
  • kaas soos Feta of Halloumi, in blokkies gesny (opsioneel)
  • vrugte soos pynappel, vars of ingemaak, in blokkies gesny (opsioneel)

Marinade of bedruipsous

  • 100 ml olyf- of sonneblomolie of helfte-helfte van elk
  • 30 ml balsamiese, druiwe- of wyn- of witasyn
  • 15 ml suurlemoensap
  • 30 ml gekapte, vars gemengde kruie of 10 ml droë gemengde kruie
  • 1-2 knoffelhuisies, in skyfies gesny of 2 ml knoffel-en-kruiegeursel
  • roosmaryntakkies of basiliekruidblare (opsioneel)
  • sout en swartpeper om oor te strooi

Metode

  1. Maak ‘n kebab met kontrasterende kleure as voorbeeld. Maak die res van die kebabs op dieselfde manier met die groente en peusel- of kebabstokkies en plaas in ‘n glasbak of plastiekhouer.
  2. Meng die marinadebestanddele tot by die knoffel. Druk die kruie tussen die kebabs in en giet genoeg marinade oor om dit gedeeltelik te bedek. Laat ten minste 30 minute of langer rus. Draai dit van tyd tot tyd om.
  3. Dreineer kebabs en strooi geurmiddels oor. Rooster ± 15 cm van die oondelement af, of oor matige kole tot die groente sag is. Draai af en toe versigtig om, aangesien die groente sag word en mag afval. Bedruip soos nodig.
  4. Plaas op ‘n geskikte opdienbord en hou warm tot benodig.

Bron: Braaigeregte
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.