ʼn Maklike, voedsame gereg wat elkeen in die gesin sal geniet.
Genoeg vir 6.
Bestanddele
Groentevulsel
- ± 50 ml olyfolie
- 1 groot eiervrug, in dik skywe gesny en dan gehalveer
- 4 groot murgpampoentjies, in dik skywe gesny
- 1 groot rooi soetrissie, ontpit en in repies gesny
- 1 groot geel soetrissie, ontpit en in repies gesny
- 1 rooi ui, in kwarte gesny
- 4 groot bruin sampioene, in dik skywe gesny
- 6 babamielies, gehalveer
- 15 ml gemengde droë kruie
Tamatiesous
- 2 blikke gekapte tamaties (410 g-blikke), met die vloeistof
- 10 ml ligte bruinsuiker
- 60 ml olyfolie
- sout en varsgemaalde swartpeper
- 1 knoffelhuisie, gepers
- 4 basiliekruidblare, geskeur
Kaassous
- 50 ml botter
- 50 ml koekmeel
- 300 ml melk
- sout en varsgemaalde peper
- 100 g gerasperde cheddarkaas (250 ml)
Pasta
- Tamatiesous (reeds gemaak)
- Kaassous (reeds gemaak)
- 1 pak kitsklaar spinasielasagnevelle (500 g-pak)
- 2 wiele fetakaas, gekrummel
- 100 g gerasperde cheddarkaas (250 ml)
- 120 g gerasperde mozzarellakaas (250 ml)
Metode
Tamatiesous
- Laat prut al die bestanddele saam oor lae hitte vir sowat 30 minute totdat die sous dik is.
Kaassous
- Mikrogolf die botter vir 1 minuut lank op hoog (gebruik glasbeker of -bak). Roer die koekmeel met ʼn draadklitser by en mikrogolf dit vir 30 sekondes.
- Roer die melk by en mikrogolf dit 3 tot 4 minute lank tot die sous dik word. Klits die sous gereeld met die draadklitser sodat dit nie klonte vorm nie.
- Strooi bietjie sout en swartpeper by en roer die kaas by. Mikrogolf dit nog 30 sekondes totdat die kaas gesmelt het.
Pasta
- Stel die oond op 200 °C en gooi ʼn bietjie olyfolie op ʼn bakplaat. Verf dit met ʼn kwas oor die hele bakplaat.
- Sit al die groente in ʼn plastiekbak met ʼn deksel wat dig toemaak. Gooi die res van die olie en die kruie by. Sit die deksel op en skud ʼn paar keer goed, sodat al die groente met olie bedek is.
- Rooster die groente in die warm oond vir 30 tot 40 minute. Maak die tamatiesous en kaassous terwyl die groente rooster.
- Verlaag die oondtemperatuur na 180 °C. Verf die bodem van ʼn groot reghoekige oondbak met olyfolie en rangskik ʼn laag lasagnevelle daarop. Skep die helfte van die tamatiesous oor die velle en skep die helfte van die groente daaroor. Strooi van die fetakaas oor en skep ʼn derde van die kaassous oor.
- Sit nog ʼn laag lasagnevelle oor die kaassous en skep die res van die tamatiesous oor. Skep die res van die groente en die fetakaas oor. Skep nog ʼn derde van die kaassous oor en sit nog ʼn laag lasagnevelle bo-op. Skep die laaste kaassous oor die lasagnevelle en strooi die cheddar- en mozzarellakaas oor.
- Bak die lasagne totdat dit goudbruin is (omtrent 30 minute).
Bron: Nie vir ma’s nie
Uitgewer: Lapa