Soorte resepte:

Resep: Jan Braai se sjerrie-en-boereworsburgers in die kleine

Jan Braai se sjerrie-en-boereworsburgers in die kleine. (Foto: verskaf)

Om klein burger-frikkadelle te rol en te braai lyk nog altyd vir my na hopeloos te veel moeite, want die voorbereiding en die braaiwerk gaan ingewikkeld wees. Boerewors is die eenvoudige oplossing hiervoor.

Die ander ding van klein hamburgers (sliders) wat my pla, is dat die verhouding brood tot vleis dikwels te swaar aan die brood se kant val. Dit los ons maklik op deur nie twee nie, maar een stuk brood per miniatuur hamburger te gebruik – só skuif ons die vleisverhouding op.

Sjerrie, die oorspronklike “ou bruin”-tipe, bied goeie waarde vir geld as jy daarmee braai en is een van die sleutelbestanddele van die resep. Die soetigheid van die sjerrie pas perfek by die gekruide smaak van die boerewors.

Lewer sowat 30 stukke.

Bestanddele

  • 1,2 kg boerewors (medium dikte)
  • 2 k sjerrie
  • 3 uie (fyngekap)
  • 1 sopie olyfolie
  • 1 sopie botter
  • 3 huisies knoffel
  • 1 lang vars baguette
  • sosatiepenne

Metode

  1. Sny die boerewors in stukke van omtrent 6 cm elk.
  2. Sit die stukke boerewors in ’n mengbak en giet die sjerrie daaroor uit. Bedek die bak en laat die boerewors vir ’n paar uur in die yskas marineer.
  3. Haal die stukke boerewors uit die sjerrie en ryg dit op die sosatiepenne. Dit maak nie saak hoeveel sosatiepenne jy gebruik nie, want dis nie ’n geval van een pen vir elke mens nie. Moenie van die sjerrie ontslae raak nie.
  4. Wanneer die vuur brand, verhit ’n vuurvaste pan of potjie en soteer die fyngekapte uie in die olie en botter vir omtrent 5 minute. Voeg die knoffel by en soteer vir nog ’n minuut.
  5. Vat die sjerrie waarin die boerewors geswem het, giet dit in die pan by die uie en knoffel, en kry dit aan die kook. Roer gereeld terwyl jy die helfte daarvan laat wegkook.
  6. Sit die gemarineerde boerewors-sosaties op ’n toeklaprooster, maak hom toe en braai oor warm kole vir omtrent 8 minute tot gaar. Laat elke kant minstens twee keer kole toe kyk – dit beteken jy moet die rooster altesame minstens drie keer omdraai.
  7. Terwyl julle braai, kan jy of een van jou braai-assistente die baguette in dun snye verdeel (ons wil die verhouding op die maksimum vleis tot brood hou, so sny hom dun).
  8. Pak die baguette-snye op ’n kerfplank uit en gee elke stuk ’n skeut van die sjerrie-en-uiesous.

Wanneer die boerewors reg is, haal dit van die vuur af, trek die sosatiepenne uit en pak ’n stuk gebraaide sjerrie-boerewors op elke voorbereide sny van die baguette.

  • Jan Braai vir erfenis word weekliks op Saterdae om 19:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Janice du Plessis ·

Dagsê Racheltjie Debeer

Baie dankie vir jou navraag.
‘n Sopie is ‘n “tot glass” of “tot measure” wat ongeveer 25 ml is en kan sommer so met die oog geskat word.
Hoop dit verskaf meer duidelikheid.

Groetnis
Janice du Plessis
namens Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.