Soorte resepte:

Resep: ‘Jan Braai’ se witvisfilette met chermoulasous

‘Jan Braai’ se witvisfilette met chermoulasous. (Foto: verskaf)

Witvisfilette kan nogal saai wees, maar dié resep uit Noord-Afrika sal die probleem oplos. Die keurige kombinasie van kruie en speserye het ’n baie geurige visdis tot gevolg, sonder om die monde van sensitiewe eters te brand. Al kom die resep van buite ons landsgrense, is dit maklik om al die bestanddele plaaslik in die hande te kry.

Genoeg vir 6 mense

Bestanddele

  • 6 porsies vars witvisfilette (bly weg van stokvis, dit is te sag om te braai)
  • ½ koppie olyfolie
  • 1 suurlemoen se sap
  • 2 sopies opgekapte koljander
  • 2 sopies opgekapte pietersielie
  • 3 huisies knoffel (gekneus of opgekap)
  • ½ sopie paprika
  • 1 teelepel fyn komyn
  • 1 teelepel fyn koljander
  • 1 teelepel sout

Metode

  1. Maak die marinade in ’n geskikte bak deur al die bestanddele te meng (behalwe natuurlik die vis). Sit dan die visfilette in die bak met marinade en maak seker al die kante van al die filette is met marinade bedek.
  2. Laat die vis vir 1 uur marineer.
  3. Sit die vis in ’n toeklaprooster en braai vir 8 tot 12 minute oor matige tot warm kole totdat dit gaar is. Draai die rooster net een keer om want die visfilette kan maklik vlok en opbreek. Wees ook versigtig om die filette nie te lank te braai nie want hulle droog vinnig uit.

Hierdie marinade is ook lekker by hoender of mielies wat jy oor die kole van ʼn houtvuur braai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.