Soorte resepte:

Resep: Kerrie-en-witwyn-mosselsop

Kerrie-en-witwyn-mosselsop (foto: Lapa Uitgewers)

Hierdie resep vir smaaklike sop sal nuttig te pas kom wanneer die winterkoue by jou deur kom aanklop.

Lewer 6 porsies

Bestanddele

  • 15 ml sonneblomolie
  • 15 ml botter of margarien
  • 1 groot ui, fyngekap
  • 5 ml kerriepoeier
  • 5 ml hoenderaftrekselpoeier
  • 30 ml koekmeelblom
  • 1 liter melk of 500 ml melk, plus 250 ml water, plus 250 ml room
  • ± 500 g skoongemaakte, gaar mossels of ingemaakte mossels, gedreineer en goed afgespoel
  • 125 ml witwyn
  • 2-3 sprietuie, gekap
  • sout en swartpeper na smaak

Metode

  1. Plaas die botter of margarien, olie, ui en kerriepoeier saam in ʼn kastrol en soteer liggies oor lae hitte, terwyl dit af en toe geroer word, tot die ui sag is.
  2. Roer die hoenderaftrekselpoeier en koekmeelblom by en voeg die melk (of melk, water en room) by.
  3. Bring tot kookpunt terwyl geroer word sodat ‘n gladde, dun sous verkry word.
  4. Voeg die mossels, wyn en sprietui by en laat 10 minute lank baie stadig prut. Voeg sout en peper na smaak by en laat nog ‘n paar minute lank prut.
  5. Bedien stomend warm in warm sopkommetjies en skep ʼn teelepelvol room daarop om dit af te rond.

Variasies

  • Kerriegarnaal/steurgarnaal/seekossop: Vervang die mossels met skoongemaakte, goed afgespoelde garnale of steurgarnale of marinara-mengsel en voeg dit by die sopbasis saam met die wyn en sprietui. Volg dan die stappe soos hierbo beskryf.
  • Kerriehoendersop: Verwyder al die sigbare vet en oortollige vel van ongeveer 1 kg hoenderporsies en bedek met 500 ml water. Laat opkook en prut 30 minute lank onbedek of tot die vleis baie sag is en die vloeistof met die helfte verminder het. Giet die aftreksel deur ‘n sif en gebruik dit as ‘n deel van die vloeistof in die resep in plaas van water of melk. Verwyder die vel en bene, sny of breek die hoender in stukkies en voeg dit in plaas van die mossels by die sop.
  • Kerriegroentesop: Vervang die mossels met 500 g netjies gesnyde, gemengde gaar groente, soos wortels, ertjies, broccoli, groenbone, aartappel en mielies, of gemengde bevrore groente wat afgespoel en gedreineer is.

Bron: Kerries
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.