Soorte resepte:

Resep: Kerrie-sampioen-handpasteie

Kerrie-sampioen-handpasteie. (Foto: verskaf)

Dié heerlike pastei is bobaas-trooskos in die winterkoue.

Maak 12 handpasteie

Bestanddele

Kors

  • 350 g meel
  • 8 g sout
  • 150 g botter
  • 2 groot plaaseiers
  • 20‑30 ml yskoue water

Vulsel

  • 2 groot aartappels, geskil en in blokkies gesny
  • 30 g rou kasjoeneute
  • 1 groot, ryp tamatie, stronk verwyder en ’n kruis gesny in die onderkant
  • 1 mediumgrootte wit ui, geskil en in kwarte gesny
  • ± 250 ml kookwater
  • 1 t komynsaad
  • 2 e kerriepoeier, kies jou sterkte
  • 250 g knopiesampioene, in kwarte gesny
  • 80 g vars of bevrore ertjies (ongeveer ’n ½ koppie)
  • 1 groot hand vol koljander, grof gekap
  • 1 groot eier, liggies geklits vir bestrykeier
  • Komynsaad om oor die pasteie te sprinkel
  • Blatjang vir bediening

Metode

Vir die kors

  1. In ’n groot bak, meng die meel en die sout.
  2. Meng die botter in die meel in met jou vingerpunte om ’n nat sand te maak.
  3. Voeg die eiers by en meng met ’n vurk tot die deeg net-net bymekaarkom.
  4. Voeg die water geleidelik by, ’n lepel op ’n slag, net tot die mengsel bind.
  5. Moenie die deeg te veel bewerk nie.
  6. Vorm in ’n groot plat skyf en bedek met plastiek.
  7. Sit die deeg vir minstens 30 minute in die yskas of maak dit die aand voor die tyd.

Vir die vulsel

  1. Sit die aartappels in ’n pot koue water met sout in. Laat dit kook.
  2. Prut tot die aartappels sag is. Dreineer en maak rofweg fyn. Sit eenkant.
  3. Sit die kasjoeneute, tamatie en ui in ’n beker.
  4. Gooi kookwater oor om te bedek. Laat vir 30 minute staan.
  5. Dreineer die water, skil die tamatie en sit alles in ’n versapper.
  6. Versap tot heeltemal glad.
  7. As jou tamatie nie sappig genoeg was nie, kan jy ’n bietjie water in die versapper bygooi om dinge aan te help.
  8. Verhit ’n klein bietjie olyfolie in ’n groot braaipan.
  9. Voeg die komynsaad en kerriepoeier by en braai vir ’n minuut tot geurig.
  10. Voeg die sampioene by en soteer tot goudbruin.
  11. Voeg die kasjoeneutpuree by en prut.
  12. Voeg die ertjies, koljander en kapokaartappels by. Meng alles tot dit goed gemeng is.
  13. Proe om geurmiddels aan te pas.
  14. Verwyder die vulsel van die hitte en krap in ’n bak in. Laat heeltemal afkoel.

Om pasteie aanmekaar te sit

  1. Rol die deeg op ’n meelbedekte oppervlak tot ongeveer ± 3‑4 mm dik uit.
  2. Gebruik ’n bak van ± 13 cm wat onderstebo geplaas word om sirkels uit te sny.
  3. Plaas ’n paar lepels van die koue vulsel in die deegsirkel en maak die kante nat met water. Verseël dit in ’n halfmaanvorm en druk al die lugborrels uit soos wat jy aangaan.
  4. Plaas halfmaanpasteie op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is.
  5. Druk die randte met die tande van ’n vurk plat om die twee lae te seël en ’n mooi rand te maak.
  6. Plaas dit in die yskas om vir 15 minute te rus.
  7. Voorverhit die oond tot 200 °C.
  8. Verwyder die pasteie uit die yskas en maak twee klein snytjies in elke pastei sodat stoom kan ontsnap.
  9. Verf die hele pastei met bestrykeier en sprinkel komynsaad op.
  10. Bak vir 25 minute tot goudbruin en tot die deeg deurgaar is.
  11. Bedien met ’n lepel van jou gunstelingblatjang en geniet.

Bron: The South African Mushroom Farmers’ Association (SAMFA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.