Soorte resepte:

Resep: Kitka

Kitka. (Foto: 50 Sop- en broodgeregte/Lapa Uitgewers)

ʼn Sagte, warm broodjie met botter daarop gesmelt is nooit te versmaai nie.

Lewer 1 groot of 2 middelslag brode.

Bestanddele

  • 2 t (10 ml) kitsgis
  • 1 k (250 ml) louwarm water
  • 380 g koekmeel
  • ¼ k (60 ml) suiker
  • 2 t (10 ml) sout
  • 2 groot eiers
  • 1 groot eiergeel (hou die eierwit om oor die brood te verf)
  • ¼ k (60 ml) kanola-olie of gesmelte hotter
  • koekmeel om oor te strooi
  • 1 e (15 ml) water

Metode

  1. Strooi die kitsgis oor die louwarm water en voeg ‘n groot knypie suiker by. Roer die mengsel tot die gis opgelos het en laat dit eenkant rus tot die boonste laag van die oppervlak skuimerig word.
  2. Sif die meel. suiker en sout saam in ‘n groot mengbak. Maak ‘n holte in die meelmengsel. Voeg die eiers, eiergeel en olie of gesmelte botter by en meng dit ‘n klein bietjie van die meel.
  3. Giet die gismengsel oor die eiermengsel en meng alles goed saam met ‘n houtlepel tot dit ‘n deeg vorm.
  4. Keer die deeg op ‘n meelbestrooide oppervlak uit en knie dit vir 10 minute tot sag en glad. lndien die deeg nog te taai is, kan jy 5 ml (1 teelepel) koekmeel op ‘n slag byvoeg terwyl jy die deeg knie.
  5. Plaas die deeg in ‘n mengbak wat met olie gesmeer is. Bedek met kleefplastiek en laat dit vir 1-2 uur op ‘n warm plek rys tot dubbeld die volume.
  6. Verdeel die deeg in ses eweredige porsies en rol elke porsie in ‘n wors van 3 cm dik en 30 cm lank.
  7. Plaas drie deegworse langs mekaar en heg die bopunte deur dit stewig saam te knyp. Doen dieselfde met die oorblywende deegworse.
  8. Vleg die deegworse soos ‘n gewone vlegsel en knyp die onderpunte stewig saam.
  9. Voorverhit die oond tot 180 °C en voer twee bakplate met bakpapier uit.
  10. Plaas die gevlegte brode op die voorbereide bakplate en strooi ‘n bietjie koekmeel oor. Plaas ‘n skoon kombuisdoek oor elke brood en laat dit vir ten minste 1 uur op ‘n warm plek rys.
  11. Meng die eierwit en water en klits dit liggies saam. Verf die brode met die eierglaseersel en bak vir 30-35 minute. Roteer die bakplate 180° na 15 minute se baktyd.
  12. Verwyder die brode uit die oond en laat dit op draadrakke afkoel.

Bron: 50 Sop- en broodgeregte
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

domheks ·

Het iemand al probeer om die brode in die ‘air fryer’ te bak? Sal antwoord verwelkom. Dankie!

Meisie ·

Ek wil graag probeer, ons airfryer het wel ‘n “bake setting”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.