Soorte resepte:

Resep: Laerskool Bakenkop se Karoo-staanrib

Laerskool Bakenkop vier vanjaar hul 40ste bestaansjaar. (Foto: Laerskool Bakenkop/Facebook)

Hoewel 40 jaar nog jonk is in vergelyking met skoolreuse wat reeds eeue lank kinders deur die skoolbanke dra, is die Laerskool Bakenkop in Wierdapark trots daarop dat Bakie-leerders met karakter en standvastige waardes gekweek is deur die vier dekades van sy bestaan.

Willie Fourie, wat al sedert 2011 die skoolhoof van Laerskool Bakenkop is, koppel ’n waardesisteem nie bloot net aan ’n paar woorde nie, maar aan klein dade wat aan groter lewenswaardes gekoppel kan word.

“Dertig jaar nadat jy vir die laaste keer in die skool se banke gesit het, is dit die waardesisteem wat gedurende jou vormingsjare by jou gekweek is, wat gaan veroorsaak dat jy eerlik is in jou werksomgewing en trots is op die werk wat jy doen,” sê Fourie.

“Ons het die voorreg om nog dieselfde waardesisteem aan ons leerders te kan bied.”

Tydens ’n onlangse skoolreünie, waartydens leerders vanuit die vier bestaansdekades heerlik saamgekuier het, was dit vir Fourie verfrissend om te sien hoe die verskillende generasies met mekaar ooreengestem het.

Dit het vir hom duidelik geword dat die waardes wat deur die skool in die eerste generasie gekweek is, ooreenstem met dié van die jongste een.

Hy vertel dat mense deur die loop van die reünie nostalgies deur die skoolterrein en -geboue kon loop.

“Dis ongelooflik om te weet dat dieselfde onderwyser en ouer wat 40 jaar hier op die skoolterrein gebraai het, ná al die jare kan terugkom en dieselfde omgewing sien en dieselfde gevoel ervaar.”

Fourie is opgewonde oor die toekoms en sê die skool se waardes vloei soos ’n goue draad deur elke jaar en generasie, en dié draad gaan nie vinnig geknip word nie.

“Mense dra die waardes saam met hulle in hul hele lewe in, en wanneer dit tyd word dat hulle kinders skool toe moet gaan, weet hulle waarheen om te draai.”

“KosMosTyd”. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

KosMosTyd, die indrukwekkende resepteboek wat die skool vir sy 40ste verjaarsdag laat druk het, word deur Fourie as aandenking beskou, en nie as ’n geleentheid om bloot munt daaruit te slaan nie.

Hy het self ’n resep in die boek. Dié resep herinner hom aan sy grootwordjare in die Karoo, sy grootouers en die waardevolle uitwerking wat dit op hom gehad het.

“Met elke Vadersdag, en soos die begroting dit verder deur die jaar toelaat, berei ek hierdie gereg voor. Vir drie uur gedenk ek baie herinneringe aan my pa en oupa.”

Hoewel dié dis Fourie na aan die hart lê, benadruk hy dat die resepteboek propvol ouma-, oupa- en kosbare familieresepte is.

Hier is Willie Fourie se Karoo-staanrib

Bestanddele

  • heel skaaprib (uit die Karoo is soveel beter, sodat jy die Karoo-bossie kan proe)
  • sout
  • swartpeper
  • witasyn of suurlemoensap

Willie Fourie se Karoo-staanrib. (Foto: KosMosTyd)

Metode

  1. Geur die rib met sout en peper na smaak. Sprinkel liggies met witasyn of suurlemoensap.
  2. Bou ’n gesellige houtvuur.
  3. Plaas die rib in ’n staanrooster langs die vuur. Nooit op direkte hitte of te naby aan die kole nie. Braai eerste die beenkant wat wys na die vuur, draai gereeld om sodat dit nie brand nie.

Die geheim van hierdie staanrib

  • Hou die vuur aan die brand.
  • Wees geduldig.
  • Die rib moet nie te naby of te ver van die vuur staan nie, sodat die vet wat uitbraai nie aan die brand slaan nie.
  • Jy moet jou hand tussen die rooster en die vuur vir 10 sekondes kan hou … 1001 … 1002 … 1003 …
  • Dit neem ongeveer drie uur, na gelang van die dikte van die rib.
  • As jy onseker is, nooi my, ek sal jou die eerste keer kom wys.

KosMosTyd kan teen R150 hier aangeskaf word.

Bron: KosMosTyd

Wen!

ʼn Gelukkige Maroela Media-leser staan die kans om ʼn eksemplaar van Laerskool Bakenkop se resepteboek KosMosTyd ter waarde van R150 los te slaan!

Vul die vorm hieronder in om ʼn kans te staan om die Laerskool Bakenkop se resepteboek te wen.

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die sluitingsdatum is Donderdag 27 Oktober 2022 om middernag en die wenner sal Vrydag 28 Oktober aangekondig word.
  • ʼn Wenner sal lukraak gekies word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind, waarna Maroela Media per e-pos en telefonies met die wenner in verbinding sal tree.
  • Sodra die wenner gereageer het, sal die persoon se naam op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die prys(e) kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Maroela Media en Laerskool Bakenkop kan nie aanspreeklikheid aanvaar as die pakkie beskadig word tydens aflewering nie.
  • Die prys sluit een eksemplaar van Laerskool Bakenkop se resepteboek KosMosTyd in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

Ja, Willie. Ons kinders se Afrikaanse onderwyser by die destydse Valhalla Laerskool. Dit klink baie lekker.

Marthina79 ·

Ek het die voorreg gehad dat altwee my kinders in Bakieland skool gegaan het. Ongelooflike skool met ongelooflike onnies.

Anna-marie ·

Laerskool Bakenkop het n goeie fondasie gelê in ons kinders se onderwys. Hulle het maklik Universiteitstoelating gekry en het vandag goeie beroepe met goeie salarisse. Laerskool Bakenkop se leuse is vir my so mooi: “Trou aan ons eie” Nog ‘n stukkie interessante inligting oor Laerskool Bakenekop: Koos Du Plessis het die pragtige skoollied geskryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.