Soorte resepte:

Resep: Laerskool Bakenkop se sjokoladerolletjies

Sjokoladerolletjies. (Foto: KosMosTyd)

Om hul 40ste verjaarsdag te vier, het Laerskool Bakenkop in Wierdapark, Centurion, ’n resepteboek, KosMosTyd, in plaas van die gebruiklike jaarboek saamgestel.

Dié resepte is deur leerders, ouers en personeel van die skool verskaf en is versigtig gekies en gekeur deur ’n langdurige beoordelingsproses.

“In aanloop tot ons skool se 40-jaarfeesvieringe, wou ons herinneringe skep deur ’n resepteboek wat ’n integrale deel van ons erfenis is, te druk. Die kindergesiggies sou dan altyd deel wees van dié boek,” het Elize Bosch, onderwyseres en redaksielid van die boek, aan Maroela Media vertel.

Die boek is netjies gedruk en sal alte mooi op enige koffietafel en in die kombuis pronk.

“Dit moet gesinne bymekaar bring, want die boek kan met sy duursame papier en nate wat stewig gestik is, klein deeghandjies trotseer.”

Oor die boek se interessante naam het die redaksie lank gedink. Hulle wou die boek se persoonlikheid en naam met ’n goue draad verbind.

Die boek bestaan uit verskillende kategorieë wat aan die verskeie grade verbind is. Van konsentrasie-kosblikkos tot ontbyt, talle verskillende resepte kan in dié boek gevind word.

“Mense sê ‘blom waar jy geplant is’, maar die boek gaan blom waar hy land. Dalk in vreemde kombuise in verre lande… dis wie sy is!”

“Geniet die boek, dit Kos Mos niks, net jou tyd.”

Probeer vandag een van die liplek-lekker resepte wat in resepteboek is.

Sjokoladerolletjies 

Genoeg vir 6 porsies

Bestanddele 

  • 2 mediumgrootte eiers
  • knippie sout
  • knippie varsgemaalde swartpeper
  • 60 ml melk
  • 6 snye brood
  • 10 ml botter
  • 90 ml sjokoladesmeer

Metode 

  1. Klits die eiers, sout, peper en melk in ʼn mengbak saam om ‘n eiermengsel te vorm.
  2. Sny die broodkorsies af en rol elke sny plat met ‘n koekroller.
  3. Smeer sjokolade op elke sny en rol dit in ‘n rolletjie op.
  4. Verhit die botter in ‘n braaipan oor mediumhitte.
  5. Doop ‘n rolletjie in die eiermengsel en braai aan alle kante tot goudbruin.

Variasies 

Strooi fyngekapte neute of skyfies vars piesang bo-op die sjokoladesmeer voor dit gerol en gebraai word.

  • KosMosTyd kan teen R150 hier aangeskaf word.

Bron: KosMosTyd

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Renier ·

Ek het as graad 1 gras geplant by daai skool. Ons het ook lekker in die bos,wat nou rugbyveld is, gespeel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.