Soorte resepte:

Resep: Maalvleisroerbraai

Maalvleisroerbraai. (Foto: Lapa-uitgewers)

ʼn Geurige maaltyd gelaai met groente en proteïen.

Lewer 4 porsies

Bestanddele

  • 10 ml kanola- of olyfolie
  • 1 ui, geskil en gekap (100 g)
  • 1 knoffelhuisie, gekap
  • ½ groen of rooi soetrissie, ontpit en in repies gesny (75 g)
  • 400 g beesmaalvleis of gemaalde volstruisvleis
  • 4 murgpampoentjies, met die skil in repies gesny (200 g)
  • 1 groot geelwortel, geskraap en in repies gesny (125 g)
  • 285 g-blik ingemaakte sampioenstukkies en stingeltjies (143 g gedreineer)
  • 5-10 ml garam masala (opsioneel)
  • 2,5 ml gemaalde kaneel
  • 30 ml Vital-sojasous
  • 30 ml blatjang
  • 10 ml Ina Paarman-beesvleisaftrekselpoeier
  • 125 ml kookwater

Metode

  1. Verhit die olie in ʼn groot braaipan. Roerbraai die ui, knoffel, soetrissie en maalvleis totdat die vleis verkleur. Voeg die murgpampoentjies, wortel en sampioene by en roerbraai totdat die groente gaar maar steeds bros is.
  2. Meng die garam masala, kaneel, sojasous, blatjang, aftrekselpoeier en kookwater en roer dit by. Prut vir 3 tot 5 minute.
  3. Sit dit voor op glutenvrye pasta, bruinrys, stampmielies of quinoa.

Variasie

Vervang die groente volgens keuse met botterskorsie, groenboontjies, kersietamaties, gekapte seldery, gekerfde kool, blomkool en broccoli.

Die garam masala en kaneel kan met vars of gedroogde kruie, soos Italiaanse kruie, vervang word.

Bron: Lekker & Vinnig: Glutenvry deur Hilda Lategan

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eend Bessinger ·

As alternatief vir die rissies kan tamaties in skywe gesny gebruik word. Dis nou Yummie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.