Wenk: Sit voor saam met ’n mengelslaai of bevries die afgekoelde pizzas vir kospakkies later die week.
Aantal porsies: 16 x 150 g
Aanbevole porsiegrootte: 150 ga
Bestanddele:
Pizzabasis
- 350 g glutenvrye koekmeelmengsel
- 150 g kekerertjiemeel
- 3,75 ml sout
- 2 ml droë gis
- 75 ml kanolaolie
- 280 ml louwarm water
Pizzasous
- 2,5 ml kanolaolie
- 1 ui, gekap
- 10 ml gekapte knoffel
- 820 g (2 blikke) gekapte tamaties
- 125 ml rooilensies
- 250 ml kookwater
- 10 ml hoenderaftrekselpoeier
- 10 ml droë origanum
- 5 ml sout
- varsgemaalde swartpeper na smaak
Metode:
- Voorverhit die oond tot 200 o Spuit ’n bakplaat met kleefwerende kossproei.
Pizzabasis
- Meng die pizzabasis se droë bestanddele saam en voeg die olie en louwarm water by. Meng goed sonder om te knie en vorm ’n bal. Bedek en laat rys op ’n warm plek.
Pizzasous
- Verhit die olie in ’n kastrol en braai die ui en knoffel tot sag en geurig.
- Voeg die res van die bestanddele behalwe die swartpeper by. Laat prut 30 minute bedek totdat die lensies sag is.
- Geur met varsgemaalde swartpeper. Laat afkoel.
- Strooi glutenvrye meel op ’n werkoppervlak en rol die pizzadeeg daarop uit. Druk sirkels met ’n deursnee van 16,5 cm daarop uit en plaas op die bakplaat.
- Verdeel die pizzasous tussen elke pizzabasis en plaas jou gunstelingbolae, soos fyngekapte groen soetrissie, sampioenskyfies, ham en mozzarellakaas bo-op. Sprinkel met droë origanum en bak 20 minute tot gaar.
Bron: Lekker en gesond: Glutenvry
Uitgewer: Lapa