Lewer 4 porsies
Bestanddele:
- 1 l (4 k) water
- 10 ml (2 t) olie
- 1 hoenderaftrekselblokkie
- 500 g (1 pak) spaghetti
- 1 kop broccoli, in blommetjies gebreek
- sout en peper
- bietjie olie
- 2 uie, gekap
- 5 ml (1 t) vars knoffel, gekap
- 2,5 ml (½ t) droë pietersielie
- 250 g (1 pakkie) spek, in blokkies gesny
- 250 ml (1 k) dik room
- swartpeper na smaak
- 80 ml (⅓ k) dennepitte, gerooster
- 60 ml (4 e) fyngerasperde parmesaankaas
- handvol vars basiliekruidblare
Metode:
- Verhit die water, olie en hoenderaftreksel tot kookpunt. Voeg die spaghetti by en kook tot halfgaar. Voeg die broccoli by en kook nog 5 minute tot die broccoli net gaar is. Dreineer.
- Roer die ekstra olie deur en strooi sout en peper oor. Hou eenkant.
- Verhit nog olie en soteer die uie en knoffel tot die uie sag is.
- Voeg die pietersielie en spek by en roerbraai tot die spek gaar is.
- Roer die room en spaghetti deur en laat dit ongeveer 2 minute op die stoofplaat staan tot die spaghetti deurwarm is.
- Geur na smaak met swartpeper en strooi die dennepitte oor.
- Sit saam met parmesaankaas en basiliekruidblare voor.
Bron: Beste uit Vrouekeur
Uitgewer: Lapa
Wat is dit met julle en broccoli? Na my mening kan jy netsowel groen lusern eet. Die ou mense het vir die kinders vertel dat slegte medisyne die beste medisyne is. Dinge soos Paragorie en Duiwelsdrek. Nou wil julle ons probeer oortuig dat broccoli eintlik lekker en gesond is. As jy nie kan lekker kos maak nie, moet jy wegneemetes oorweeg. Dit smaak darem beter en ‘n daaglikse ou multivitamien-pilletjie sal sorg vir die res.