Soorte resepte:

Resep: Pastaslaai met groente en fetakaas

Foto ter illustrasie. (Foto: Ayesha Firdaus/Unsplash)

Geniet dié pasta as bykos of as hoofgereg.

4 porsies

Bestanddele

  • 400 g spiraalpasta
  • 5 ml sout
  • 10 ml olie

Slaaisous

  • 80 ml olie
  • 45 ml sojasous
  • 10 ml heuning
  • 5 ml suurlemoensap
  • 25 ml fyngekapte vars koljanderblare
  • 25 ml fyngekapte vars pietersielieblare

Groente

  • genoeg Clover Mooi River-botter
  • 2 uie, fyngekap
  • 5 ml fyngekapte vars knoffel
  • 2 selderystingels, fyngekap
  • 6 murgpampoentjies, in spaghetti-stringetjies gekerf
  • 1 x 250 g-pakkie sampioene, gehalveer
  • 60 ml witwyn
  • 1 rooi soetrissie, ontpit en in blokkies gesny
  • 1 groen soetrissie, ontpit en in blokkies gesny
  • 14 kalamata-olywe, gehalveer en ontpit
  • 3 sirkels Clover Feta Herb, in blokkies gesny

Metode

  1. Kook die pasta volgens die aanwysing op die pakkie tot al dente en dreineer. Roer ’n klein bietjie olie deur sodat die pasta-stukke nie aan mekaar vaskleef nie.
  2. Slaaisous: Meng die bestanddele saam en giet bo-oor die pasta terwyl dit nog warm is. Bedek en hou eenkant.
  3. Groente: Smelt genoeg botter in ’n swaarboomkastrol en soteer die ui en knoffel tot sag.
  4. Roer die seldery by en soteer vir ’n verdere 2 minute. Voeg die murgpampoentjies by en soteer vir nog 3 minute.
  5. Voeg die sampioene by en soteer vir 3 minute. Giet die witwyn oor en laat oor lae hitte prut vir 5 minute.
  6. Voeg die soetrissies by, meng goed deur en verwyder van die hitte. Laat afkoel.
  7. Voeg die olywe en fetakaas by.
  8. Meng die groentemengsel deur die pasta en sit koud of teen kamertemperatuur voor.

Bron: Ekonomiese Gesinskos
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.