Soorte resepte:

Resep: Spinasie-en-botterskorsie-lasagne

Spinasie-en-botterskorsie-lasagne (Foto: verskaf)

Hierdie heerlike spinasie-en-botterskorsie-lasagne is die perfekte vegetariese plaasvervanger vir ’n tradisionele lasagne-dis.

Lewer 8 porsies

Bestanddele

  • 9 wit lasagne-velle
  • 5 ml kookolie
  • 20 ml Clover Mooirivier-botter
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • 1 groot ui, fyngekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 1 l Clover 2%-laevetmelk
  • 60 ml mielieblom
  • 300 g fyngekapte spinasie
  • 150 ml fyngekapte vars pietersielie
  • 2 ml fyn neutmuskaat
  • 1 kg botterskorsie, geskil en ontpit, in die lengte en in skywe gesny
  • 500 ml gerasperde Clover- wit cheddarkaas

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180˚ C.
  2. Week die lasagne-velle in warm water tot benodig.
  3. Verhit die olie en botter in ’n groot pan en braai die knoffel, ui, sout en peper liggies tot die ui deurskynend is. Voeg ’n eetlepel water by indien die mengsel te droog braai.
  4. Meng 125 ml melk en die mielieblom goed saam sodat daar geen klonte is nie. Verhit die oorblywende melk in ’n groot kastrol tot dit begin prut. Roer die mielieblommengsel deur en verhit tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat die sous vir ongeveer 5 minute prut – roer aanhoudend.
  5. Roer die uiemengsel, spinasie, 125 ml pietersielie en neutmuskaat deur die sous. Laat dit liggies prut tot die spinasie verwelk het en geur na smaak. Verwyder van die hitte.
  6. Stoom die botterskorsieskywe vir 5 minute tot effens sag, maar nog hanteerbaar.
  7. Dreineer die lasagne-velle.
  8. Versprei 250 ml van die spinasiesous oor die bodem van ’n 30 cm x 20 cm- oondvaste bak. Rangskik 3 lasagne-velle oor die sous. Rangskik die helfte van die botterskorsieskywe oor die lasagne-velle en strooi ’n derde van die wit cheddarkaas oor.
  9. Versprei nog 250 ml van die spinasiesous oor die kaas, gevolg deur nog 3 lasagne-velle. Rangskik die oorblywende botterskorsieskywe op die lasagne-velle en strooi nog ’n derde van die kaas oor.
  10. Versprei nog 250 ml van die spinasiesous oor die kaas, gevolg deur die laaste 3 lasagne-velle. Rond die dis af met die oorblywende spinasiesous.
  11. Bedek die lasagne met foelie en bak vir 40 minute. Verwyder uit die oond, haal die foelie af en strooi die oorblywende kaas oor. Bak vir ’n verdere 15 minute tot die kaas begin borrel en die botterskorsie sag is.
  12. Laat die lasagne vir 10 minute rus voor dit bedien word.

Bron: Ekonomiese gesinskos
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.