Soorte resepte:

Resep: ‘Suidooster’-samoesas

Mymoena se samoesas. (Foto: Verskaf)

Vandag (5 September) is Internasionale Samoesa-dag en die kykNET-sepie Suidooster deel graag die geliefde Mymoena se samoesa-resep.

“My Oemie het my leer snoephappies maak soos samoesas, dhaltjies, vleispasteitjies en half-moons. Al was die resepte ʼn groot familiegeheim, het ek altyd gedroom om dit vir my eie dogter te leer. Dis ook deur hierdie magic driehoekies wat ek die mense van Oos Wes goed leer ken het. Ek het baie bestellings gekry vir my ertjie-en-aartappelsamoesas en my hoendersamoesas met lekker baie jeera en koljana, maar dis die ekstra byt van my spicy mince-samoesas wat my huismense se favourite is.”

Resep:

Maak ±20 samoesas

Deeg

  • 320 ml (175 g) koekmeel
  • 3 ml sout
  • 15 ml olie of ghee
  • Sowat 100 ml warm water

Vulsel

  • 20 ml olie
  • 2 uie, fyngekap en water uitgedruk
  • 1 knoffelhuisie, fyngekap
  • 1 cm-stuk vars gemmer, fyngekap
  • 10 ml sterk kerrie
  • 2,5 ml borrie
  • 3 ml sout
  • 15 ml asyn
  • 200 g beesmaalvleis
  • 100 ml warm water
  • 5 ml garam masala
  • 30 ml gekapte koljander- of ment-blare
  • olie vir diepbraai

Wenk: Laat die deeg rus vir so 30‑40 minute. Dan het jy meer beheer by die uitrolslag. Ekself is ook myle beter na ’n bietjie rus!

Metode:

Deeg

Sif die meel en sout saam en roer die olie en genoeg warm water bietjie-bietjie by om ’n hanteerbare deeg te vorm. Knie 10 minute lank tot die deeg glad en elasties is. Maak dig toe en laat die deeg 30‑40 minute rus.

Vulsel

Verhit die olie in ’n diep pan en braai een van die uie saam met die knoffel en gemmer tot die ui sag is. Voeg die kerrie, borrie, sout en asyn by en roerbraai vir een minuut. Roer die maalvleis by en braai oor hoë hitte tot gaar. Stel die hitte laer. Voeg die water by, sit die deksel op en stowe tot die vleis sag en die vloeistof minder is. Roer af en toe. Voeg die garam masala en koljander by, haal van die hitte af en roer die res van die uie by.

Verdeel die deeg in 18‑20 balletjies en rol elke balletjie met ’n rolstok tot ’n pieringgrootte sirkel uit. Sny elke sirkel middeldeur en skep 5 ml van die vulsel op die eenkant van die halfsirkel. Smeer ’n bietjie water op die rand en vou toe om ’n driehoek te vorm – die water werk soos gom. Druk stewig vas.

Verhit genoeg olie vir diepbraai en braai die samoesas tot goudbruin, en draai gereeld om. Skep uit met ’n gaatjieslepel en dreineer op kombuispapier.

Uit: Suidooster Kombuis-resepteboek

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
piet

Lekker. Ek verstaan nie hoekom resepte altyd die metingseenheid vir vastestof bestanddele as milliliter aandui nie, moet dit nie gram of iets wees nie? Ek weet die meeste maatbekers, ens. merk af in milliliter maar nogtans……

Belinda

Ek gaan defnitief hierdie probeer want mens kry nie meer die oordentlike samoesas wat mens in die ou tyd gekry het nie.
Daai wat die vuil mense altyd so aan jou probeer afsmeer het met proe-samples.
Vandag se samoesas se deeg is nie dieselle. Dit moet dié wees wat sulke bubbles maak, dis die oorspronklikes. Die wat mens vandag koop word met n ander deeg /resep gemaak.