Soorte resepte:

Resep: ‘Tiaan Proe’ se kaasresepte

Fondue met witwyn en bros broodstokkies. (Foto: verskaf)

Die jongste episode van Tiaan Proe sal kaasliefhebbers se harte vinniger laat klop.

Fondue met witwyn en bros broodstokkies

Bestanddele

  • 1 huisie knoffel
  • 350 ml witwyn van jou keuse
  • 600 g harde kaas van jou keuse
  • 5 ml suurlemoensap
  • neutmuskaat, na smaak
  • 20 ml mielieblom

Metode

  1. Smeer die binnekant van ’n pot met die knoffel om seker te maak dat die knoffelsmaak duidelik in die sous geproe kan word.
  2. Verhit die wyn tot net onder kookpunt en voeg nou die kaas bietjie vir bietjie by. Klits terwyl jy dit doen om seker te maak dat dit goed in die vloeistof in smelt.
  3. Geur met suurlemoen en neutmuskaat. Meng die mielieblom met bietjie water en meng in by die sous; maak seker die sous bereik die regte temperatuur sodat die mielieblom gaar kan word.
  4. Bedien met brood.

Kaas-en-spinasie-quiche. (Foto: verskaf)

Kaas-en-spinasie-quiche

Bestanddele

  • 1 koppie kaas
  • 1 koppie botter
  • 1 koppie meel
  • 500 ml room
  • 1 koppie kaas
  • 1 pakkie vars babaspinasie
  • 2 wiele fetakaas van jou keuse
  • sout en peper na smaak

Metode

  • Meng alles goed saam en maak seker dat jy nie té veel hitte toepas in die proses om die deeg te meng nie. Laat rus in die yskas.
  • Rol relatief dun uit op die bodem van ’n losbodem-quiche-pan.
  • Sit die pan terug in die yskas om seker te maak dat die kors goed koud word.
  • Stoom die spinasie tot net gaar. Voeg die res van die bestanddele by en meng baie goed. Geur na smaak.
  • Skep die vulsel in die koue kors en plaas op ’n bakplaat in ’n voorverhitte oond van 180 ˚C
    tot net gestol.
  • Laat rus tot louwarm en bedien saam met ’n lekker groen slaai. Die quiche vries goed en kan vir sowat drie dae in die yskas gehou word.

Geroosterde kaasbroodjie met garnale. (Foto: verskaf)

Geroosterde kaasbroodjie met garnale

Bestanddele

  • 2 snye brood per persoon, plaasbrood werk baie goed
  • 3 kase van jou keuse, ’n totaal van so 60 g per broodjie
  • 2 snye ham van jou keuse, of jy kan bros spek gebruik
  • 1 eier per persoon
  • 3 garnale per persoon
  • bietjie mosterd van jou keuse
  • botter vir die brood

Metode

  1. Smeer albei snye brood goed met botter en pak met kaas en ham of spek. Ek smeer bietjie mosterd aan die binnekant van die broodjie.
  2. Nou kan jy ’n pan verhit met bietjie olie en botter, asook ’n pannetjie met kookwater vir die eier.
  3. Maak ’n toebroodjie met die kaas en die ham en rooster dit by ’n matige hitte tot die kaas gesmelt is en die buitekant van die broodjie mooi goudbruin is.
  4. Sit die broodjie eenkant en hou warm. Posjeer 1 eier tot sag en loperig.
  5. Maak die garnale skoon en marineer in bietjie knoffel, gemmer en soja.
  6. Rooster die garnale op die hibachi (tradisionele Japannese rooster) en bedien op die broodjie met die eier. Die eier moet lekker loop en ’n doopsous vorm.
  • Vir meer resepte kyk Tiaan Proe wat elke Dinsdagaand om 21:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.