Soorte resepte:

[Resepte] Botterboonkapok en muesli

(Foto: Verskaf)

Hier is twee resepte wat dinge so ʼn bietjie makliker, vinniger en gesonder in die kombuis kan maak. Die bonekapok is ’n kitsalternatief vir aartappelkapok, en met ’n houer vol tuisgemaakte muesli het jy sommer iets gereed vir ontbyt en selfs as peuselhappie of sprinkellaag oor ’n slaai of groentegereg.

Die bone is ook ’n bron van proteïen, vesel en natuurlik ander vitamiene en minerale wat in bone voorkom. Wissel die geurmiddels vir die kapok af, soos jou gesin daarvan gaan hou. Gebruik ander kruie, peperwortelsous (horseradish) of selfs gekapte pikantrissies (Peppadews®) of soteer ’n knoffelhuisie saam met die ui.

Botterboonkapok

Resep aangepas uit Kos is op die tafel!

Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele

15 ml (1 e) avokado- of olyfolie

1 ui, gekap

2 x 410 g-blikke botterbone

30 ml (2 e) gekapte vars Italiaanse pietersielie of grasuie

10 ml (2 t) suurlemoensap

15-20 ml (3-4 t) korrelmosterd

sout en peper na smaak

Metode

  1. Verhit olie oor matige hitte in ’n braaipan (’n AMC 24 cm- Chef’s Pan werk goed). Soteer ui tot heeltemal sag.
  2. Dreineer die bone, maar behou sowat 50 ml van die vloeistof. Voeg die bone by die ui en prut 2-3 minute saam of tot die bone warm is.
  3. Druk die bone en ui met ’n aartappeldrukker fyn en voeg van die behoue vloeistof by tot ’n growwe mengsel vorm. Roer kruie, suurlemoensap en mosterd by en geur met sout en peper.
  4. Sit kapok as bygereg met aandete voor. Of meng van die koue mengsel met ’n bietjie ongegeurde jogurt, maaskaas of melk en gebruik as ’n doopsous met groenterepies vir ’n kosblik.

Muesli

Resep aangepas uit Cooking from the heart 2

Lewer 1,2 kg muesli

Bestanddele

1 kg gerolde hawermout

125 ml (½ k) rou amandels, gekap

180 ml (¾ k) sonneblomsaad

90 ml (6 e) pampoensaad

90 ml (6 e) sesamsaad

75 ml (5 e) avokado- of sonneblomolie

60 ml (¼ k) heuning

10 ml (2 t) vanieljegeursel

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n groot bakplaat met bakpapier uit.
  2. Plaas hawermout, neute en sade in ’n groot mengbak. Plaas olie en heuning in ’n aparte bakkie en verhit effens in die mikrogolfoond of oor lae hitte in ’n klein kastrol. Roer die vanieljegeursel by.
  3. Roer die oliemengsel deeglik deur die hawermoutmengsel.
  4. Plaas die hawermoutmengsel in ’n enkellaag op die bakpapier. Rooster vir 10 minute. Roer deur en rooster nog 8-10 minute of tot goudbruin en bros.
  5. Laat heeltemal afkoel en bêre in ’n lugdigte houer. Dit sal vir 4 weke vars bly.
  6. Sit voor met vars vrugte en jogurt, indien verkies.

Kyk elke Maandagoggend saam na #Kosblik, op Die Groot Ontbyt, op kykNet se kanaal 144 waar ek oor smullekker en maklike resepte gesels. Volg my op Facebook www.facebook.com/HeleenMeyerFood of besoek my webwerf www.heleenmeyer.co.za as jy meer oor hierdie twee resepte wil lees of na nog resepte op soek is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.