Soorte resepte:

SA jenewer wen met Karoo-bossies

Bossieveld Inspiration Gin (Foto: Verskaf)

ʼn Suid-Afrikaanse jenewer van Bossieveld Craft Gin, wat met Karoo-bossies gegeur word, het onlangs ʼn internasionale jenewerprys gewen.

Bossieveld het ʼn goue toekenning ontvang vir hul Bossieveld Inspiration Gin, asook die prys vir Best of Class: Certified Craft Spirits – International Gins en Best of Category – International Gin Award.

Ian Goss-Ross, die uitvoerende hoof van Bossieveld Craft Gin, sê hulle beproef gereeld nuwe resepte en dat die Inspiration Gin ʼn resultaat van hul eksperimente was.

“Hoe meer jy probeer, hoe beter is jou kans om iets goeds te maak; ons is self verbaas oor die wonderlike geure wat uit die bossies gekom het,” sê hy.

Goss-Ross sê dié jenewer word op ʼn natuurlike manier gegeur te danke aan die Karoo-bossies. Terwyl baie ander jenewers aangevul word deur goed soos suiker en geurmiddels, sê hy die bossies gee al die regte smake en geure, maar op ʼn heeltemal natuurlike manier.

Hoewel ander distilleerders reeds Karoo-kruie gebruik om jenewer te geur, gebruik baie min ware wilde Karoo- botaniese bestanddele.

“Ons gebruik standaard- botaniese bestanddele wat algemeen gebruik word, soos koljander, kamille en angelikawortels en dan is die bossies bykomend daartoe.”

Bossievled gebruik regte Karoo-bossie in hul jenewer (Foto: Verskaf)

Bossieveld het kenners gevra om te werk aan ʼn profiel vir hul jenewer en Goss-Ross sê dit is wonderlik dat hulle so baie bestanddele uitgelig het in die drankie wat nie eens bygevoeg is nie, danksy die bossies se komplekse geur.

“Die bossies help beslis met die afronding van die jenewer. Dit proe soos ʼn klassieke jenewer met ʼn effense kruiesmaak, nie een van die smake is egter oorweldigend nie.”

Bossieveld se ander jenewer, die Mystique Gin, het weer ʼn sterker smaak en ook ʼn prominente groenerige kleur wat afkomstig is van die bossies wat agterna bygevoeg word.

“Ons vind dat mense in die Karoo, wat die plante hier ken, veral hou van die groen kleur en die smaak van die bossies, want hulle het dit al geproe en hul palet is al daarvoor geoefen. Al die boere hier loop in die veld rond en kou aan die bossies,” vertel Goss-Ross.

Bossieveld Mystique Gin (Foto: Verskaf)

Die Amerikaanse Distillering-instituut se internasionale toekennings van 2020 vind jaarliks in New Orleans plaas, maar weens die Covid-19-pandemie is die wenners vanjaar aanlyn bekendgemaak.

“Dit was vir ons ʼn groot verrassing, maar dis absoluut ongelooflik. Die Inspiration Gin het verlede jaar ook dubbelgoud by die Michelangelo-toekennings gekry; so ons het geweet ons het ʼn goeie produk, maar hierdie toekenning het dit net weer bevestig,” sê Goss-Ross.

Hulle eksperimenteer steeds met nuwe bossies en resepte en daar is volgens hom nog baie potensiaal vir hierdie manier van jenewer-maak. “Ek sien uit daarna om die volgende weergawe te ontwikkel,” sê hy.

Vandat hulle die pryse gekry het, het hulle ook baie internasionale navrae en bestellings vir hul Inspiration Gin gekry.

Vir meer inligting oor Bossieveld, besoek hul webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.