ʼn Roomyswinkel in Kaapstad is pas aangewys as die winkel met die beste roomys ter wêreld.
Unframed Ice Cream in Kloofstraat in Kaapstad is ʼn boetiek-roomyswinkel wat spesialiseer in handgemaakte roomys in verskeie geure. Hulle maak ook sorbet en vegetariese roomys.
Dié winkel het onlangs bo-aan Big 7 Travel se lys van 50 beste roomyswinkels ter wêreld verskyn.
“Dit was nog altyd ons droom om die beste produk en ervaring na ons klante te bring; ons doen dit nie vir toekennings nie. Maar ons kan ons opgewondenheid nie beteuel nie; ons is trots dat ons ons deel kan doen om Kaapstad se naam hoog te hou,” het Unframed op Instagram gespog.
Big 7 Travel het in die aankondiging geskryf dat Unframed die beste roomyswinkel is, omdat dit gesonde roomys is wat in klein hoeveelhede en van die begin af handgemaak is. Hulle beveel die “Blue Coconut”-geur roomys aan.
“Dit is régte, volhoubare kos,” het Big 7 Travel geskryf. “Die roomys is ongelooflik, dit is gemaak met passie, en dit is uniek in geur en hoe ryk dit proe. Wanneer dit kom by die beste roomys ter wêreld, kry jy nie veel beter as dít nie.”
Ander lande soos Swede, Kanada en Italië maak ook ʼn verskyning op dié lys.
Hier is die tien top-roomyswinkels ter wêreld:
- Unframed Ice Cream – Kaapstad, Suid-Afrika
- Licc – York, Verenigde Koninkryk
- Bang Bang Ice Cream & Bakery – Toronto, Kanada
- FRYST – Stockholm, Swede
- Gelato Messina Circular Quay – Sydney, Australië
- Churn – Phoenix, Arizona, VSA
- Birds of Paradise Gelato Boutique – Singapoer
- Emilia Cremeria – Parma, Italië
- Giapo – Auckland, Nieu-Seeland
- Shubert’s Ice Cream & Candy – Chico, Kalifornië, VSA
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
9 Kommentare
Wat ‘n prestasie! Knap gedaan – en natuurlik goed vir besigheid. Almal sal nou wil gaan proe aan die beste roomys ter wereld. Knap gedaan!
Die lekkerste roomys wat ek nog geeet het was by n plek tussen Strand en Gordensbaai.
Pragtig en baie geluk. Mooi toekoms ek glo.
So die beoordelaars het al die roomyswinkels in die wereld besoek ?
Wonder of die beoordelaars ‘n vakante pos het. Vra maar net.