Soorte resepte:

SA vier vandag Nasionale Bierdag

Deur: Janie Monsieur

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bierdag is die gulde geleentheid om gesellig te wees, om tyd saam met vriende deur te bring en om te teug aan jou aller gunstelingbier.

Lucy Corne het vier jaar gelede dié viering van bier begin, en van daar het dit net groter en groter geword.

Corne sê sy het oral op sosiale media gesien dat mense Internasionale Bierdag op 7 Augustus vier en gedink sy sou dit ook in Suid-Afrika wou begin.

“Hier in die Kaap is die weer nie lekker vir buiteluggeleenthede in Augustus nie, so ons het begin dink aan ʼn ander datum vir ʼn bierdag eie aan Suid-Afrika,” sê sy.

Bierdag vind vandag (1 Februarie) in Suid-Afrika plaas.

Toe Corne die geleentheid vier jaar gelede begin het, was daar ʼn afname in bierverkope in die land en sy wou daarom vir die bierbedryf ʼn hupstoot gee.

“Dit is ook sommer net ʼn verskoning vir mense om bier op ʼn lekker sonnige dag te drink,” sê sy.

SA Nasionale Bierdag gaan nie daaroor om soveel bier te drink as wat jy kan en jou naam moontlik krater te maak as gevolg daarvan nie. Dit gaan eerder daaroor om tyd saam met geliefdes deur te bring en om ʼn ou gunsteling saam te geniet.

Dié dag is ook ʼn manier om mense se waardering vir die wye verskeidenheid van biere op te skerp en mense bewus te maak van die lekker boetiek- én hoofstroombiere.

Corne sê daar is deesdae ʼn groeiende neiging wêreldwyd na alkoholvrye of lae alkoholdrankies en daarom word die soorte bier ook vandag gevier.

“Daar is soveel opsies om van te kies, dat dit amper onmoontlik is vir elke mens om nie ʼn bier te kry waarvan hulle hou nie. Self as jy nie alkohol drink nie, sal daar ʼn bier vir jou wees,” sê sy.

Corne sê dié dag lê haar na aan die hart omdat bier vir so lank afgeskeep is.

“Almal sê altyd Suid-Afrika se mense drink meestal wyn, maar ons drink in der waarheid baie meer bier as wyn. Bier was nog altyd misgekyk in Suid-Afrika, so hierdie dag is daar om te wys dat Suid-Afrika nie net ʼn land is wat wyn drink nie, maar wat wyn én bier drink!”

Meer as 100 geleenthede word vandag reg oor Suid-Afrika gehou om bier te vier. Vir meer inligting oor die dag of die gepaardgaande geleenthede besoek hul webtuiste hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Strandloper ·

Mmmm…net nog n verskooning om getrek te raak. Glo my daar is baie beter dinge in die leewe as drank. Ek wens tog mense wil besef dit is n ewel!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.