Soorte resepte:

SA whisky-winkel wen internasionale prys

Neil Paterson van WhiskyBrother (Foto: Verskaf)

Vir die eerste keer is ʼn Suid-Afrikaanse whisky-winkel bekroon met die Single Outlet Retailer of the Year-toekenning by die Icons of Whisky-toekennings wat jaarliks in Londen gehou word.

WhiskyBrother, die winkel wat spesialiseer in whisky, sal nou meeding teen die wenners van Skotland, Amerika, Ierland, Indië en Australië vir die Global Icons of Whisky-titel. Die toekennings vereer sakeondernemings, produsente en mense in die wêreldwye whisky-bedryf.

Die toekennings word in ses streke verdeel. Suid-Afrika ding mee in die eerste kategorie teen lande soos onder meer Engeland, Kanada, Japan, lande in Europa en Taiwan.

Neil Paterson, mede-eienaar van WhiskyBrother het gesê hulle is ongelooflik trots en geërd om die toekenning te kry.

“Ons doel was nog altyd om wêreldklas diens na Suid-Afrikaanse whisky-drinkers te bring, en hierdie toekenning gee erkenning vir ons pogings,” sê hy.

“In die whisky-wêreld is uitsonderlike kwaliteit en boetiek‑ en nisprodukte die hoeksteen om oordeelkundig whisky te geniet. Ons winkel poog om verder te gaan as wat generies en volop is, en om ʼn hele nuwe wêreld van whisky-waardering vir almal oop te maak.”

WhiskyBrother het sy deure in 2012 oopgemaak en bied meer as 600 unieke whiskies wat reg oor die wêreld te koop is. Hulle bied ook ʼn spesiale botteleringsdiens en eksklusiewe beperkte uitgawe produkte wat deur die WhiskyBrother-span uitgesoek word.

WhiskyBrother is ook verantwoordelik vir Johannesburg se eerste en enigste kroeg wat geheel en al aan whisky toegewy word. Dié kroeg, WhiskyBrother Bar in Morningside, het meer as 1 300 whiskies van reg oor die wêreld om van te kies.

Die Global Icons of Whisky-wenners sal by ʼn gala-geleentheid in Londen op 26 Maart vanjaar aangekondig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.