Soorte resepte:

SA wyn- en toerismebedryf beloon

Die wenners van Wine & Food Tourism-toekennings (Foto: Verskaf)

Nege van Suid-Afrika se top-verskaffers in die wyn- en kostoerismebedryf is Woensdag met die eerste Wine & Food Tourism-pryse beloon.

Die prysgeleentheid is aangebied aan die einde van vanjaar se wyn- en kostoerisme- konferensie wat onlangs buite Stellenbosch ten einde geloop het. Die presteerders kom van Stellenbosch, Paarl, Franschhoek, die Overberg, die Weskus en die Karoo, en sluit ’n mengsel van goed gevestigde gunstelinge en versteekte juwele in.

Die wenners is beloon vir die skep van uitmuntende en positiewe toeriste-ervarings wat as ’n inspirasie vir ander in die bedryf kan dien.

Volgens die toerismekenner Margi Biggs wat die beoordelaarspaneel uit wyn-, gasvryheid- en bemarkingspesialiste saamgestel het, is die nege presteerders aangewys uit ’n sterk veld mededingers oor die hele spektrum – van dié wat wynproeë en kos-en-wynpasmaak aanbied tot restaurante en akkommodasie.

“Ons is verheug met die gehalte van die inskrywings vir hierdie eerste toekennings,” sê Biggs. “Ons hoop dit dien as maatstaf waarna die toenemende getal deelnemers in die bedryf kan streef en dat dit talle ondernemings in die toerismesektor sal aanspoor om beter en beter te presteer.”

Delaire Graff Wynlandgoed

Sy verduidelik dat die toekennings geskep is om vertroue in die wyn- en kostoerismebedryf te bevorder en om standaarde in dienslewering en opleiding te verhoog.

“Die toekennings steun die doelwitte van die Suid-Afrikaanse toerisme-sakeraad se strategie om die getal internasionale besoekers teen 2030 te verdubbel en sodoende sowat twee miljoen direkte en indirekte werksgeleenthede te skep. Wyn- en kostoerisme het veral die potensiaal om by te dra om hierdie doelwit te bereik,” sê Biggs.

Die paneel, onder die voorsitterskap van Jean-Pierre Rossouw, die uitgewer van Rossouw’s Restaurants en die Platter’s South African Wine Guide, het die drie top-inskrywings in drie kategorieë aangewys.

Dié kategorieë sluit in uitnemende diens met die persoonlike ervaring as oogmerk, die outentieke Suid-Afrikaanse ervaring wat fokus op eg Suid-Afrikaanse mense, plekke en oomblikke, en innovasie wat toeriste se ervaring, opwinding en genot na nuwe hoogtes vat terwyl nuwighede aangebied word.

“Die feit dat die groep van nege sowel veterane as nuwelinge in die bedryf insluit, is baie bemoedigend. Dit weerspieël die vermoë van ons gevestigde toerismeverskaffers om vars, nuut en relevant te bly, terwyl dit ook daarop wys dat daar nuwe rolspelers is wat op die hoogste vlak kan meeding.”

Die presteerders is:

Uitnemende diens

Waterford Estate, Stellenbosch

Delaire Graff Estate, Stellenbosch

Leeu Collection, Franschhoek

Die outentieke Suid-Afrikaanse ervaring

Grootbos Nature Reserve, Gansbaai, Overberg

La Motte, Franschhoek

Die Tuishuise & Victoria Manor, Cradock, Karoo

Innovering

Creation Wines, Hemel-en-Aarde, Overberg

Fryer’s Cove, Doringbaai, Weskus

Spice Route Destination, Paarl

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.