Soorte resepte:

Saai help ook volstruisbedryf vere regskud

V.l.n.r.: Mark Fish, Duane Vermeulen, Kwagga Boucher, dr Theo de Jager, Iné Bester, Dricus du Plessis en Francois Rossouw (Foto: Christa Steyn Bezuidenhout/Maroela Media)

Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) het Dinsdag tydens die Gautengse bekendstelling van Die Wynboer ook sy steun aan volstruisboere toegesê.

Maroela Media het vroeër berig oor Die Wynboer, Saai se wynbemarkingsprojek wat in Stellenbosch bekendgestel is. Die Wynboer is ’n aanlyn wynwinkel wat daarop gemik is om familieboerwyne teen kelderdeurpryse aan verbruikers van reg oor Suid-Afrika beskikbaar te stel.

“Saai is besorg oor familieboederye en ons sal enigiets doen om boere en hul families op plase te hou,” het dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, tydens die bekendstelling gesê.

Dié landbouorganisasie het vroeër vanjaar kennis geneem van volstruisboere in die Oudtshoorn-omgewing wat vir die sesde agtereenvolgende jaar deur uitmergelende droogte in die gesig gestaar word. Weens die Covid-19-pandemie het volstruisboere des te swaarder gekry.

Niekie Vermaak, bemarkingsbestuurder van Cape Karoo International (CKI) (Foto: Christa Steyn Bezuidenhout/Maroela Media)

Niekie Vermaak, bemarkingsbestuurder van Cape Karoo International (CKI), en Piet Kleyn, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Volstruissakekamer, het op uitnodiging van Saai die geleentheid bygewoon.

Vermaak sê hy is dankbaar vir die blootstelling wat hulle hierdeur verkry en hoop dat mense buite die volstruisbedryf toenemend bewus sal word van die uitdagings en swaarkry wat boere ervaar.

Hy verduidelik dat die bedryf steeds nie ten volle kan handel dryf nie, omdat fabrieke en bedrywighede nog nie herstel het nie.

Leeritems van Cape Karoo International (CKI) (Foto: Christa Steyn Bezuidenhout/Maroela Media)

“Ons is hoopvol dat dinge anders gaan wees in 2021,” sê Vermaak. “Sodra die toerismebedryf weer volstoom aan die gang is behoort die plaaslike mark te verstewig.” Vermaak sê hulle maak grootliks staat op toeriste, veral buitelandse besoekers om produkte soos leeritems en vere te koop.

De Jager het ook sy kommer oor die wynbedryf uitgespreek. Na raming is daar ’n oorskot van byna 400 miljoen liter wyn, wat meer as Suid-Afrika se plaaslike jaarlikse verbruik is.

Boonop het die verbod op alkoholverkope, wat 20 weke geduur het, honderde familiewynmakers in die moeilikheid gelaat. Saai moes aksies bedink om daardie wynplase se bottels meer aggressief te bemark, en Die Wynboer is as ʼn digitale wynwinkel gestig.

In ʼn poging om dié bedrywe by te staan het Saai besluit om ’n unieke proe-ervaring aan te bied wat die volstruismark, sowel as familiewynboerderye, in die kollig plaas.

Gaste is op heerlike wyn en volstruisversnaperings getrakteer. Kwagga Boucher, wynmaker en uitvoerende hoof van Die Wynboer, het telkens die wyn aangekondig en proenotas met gaste gedeel.

Wyn wat tydens die geleentheid geproe is, sluit in La Boucher, Marras, Marianne en Akkerdal. Dit is reeds aanlyn op Die Wynboer se webwerf beskikbaar.

Onder die honderde gaste was van Pretoria se voorste restaurateurs, landbou-ondernemings, netwerkvennote en invloedryke mense. Sangers soos Adam Tas en Ignus Wait en sportsterre soos Duane Vermeulen, Mark Fish en Drikus du Plessis het ook dié volstruis-en-wynfees bygewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Surfer ·

As volstruis vleis oral beskikbaar was in ons winkels teen bekostigbare pryse sal dit baie beter gegaan het met die bedryf, maar hulle wil mos dollars & euro’s verdien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.