Soorte resepte:

Sakpasresep: Heerlike kerriemaalvleis

 kerrie_pixabay_sakpasresep.jpg

Let wel, alhoewel die rosyntjies deel uitmaak van die foto, is dit nie een van dié resep se bestandele nie (foto: pixaby.com)

Dié week se sakpasresep is ʼn gunsteling van een van Maroela Media se projekkoördineerders, Elana Barker. Sy sê: “Dit is een van daardie resepte wat iemand lank terug sommer so op ʼn stukkie papier vir my neergeskryf het. Ek kan glad nie onthou waar ek dit gekry het nie!” Natuurlik kan dié resep ook aangepas word na gelang van die hoeveelheid mense wat gaan saam eet.

Ongeveer 4 tot 6 mense kan hiervan eet.

Bestanddele

  • 2 e olie
  • 1 klein ui gekerf
  • 1 tot 2 t kerriepoeier (matig of sterk na gelang van jou smaak)
  • 500 g gemaalde beesvleis
  • 1 pakkie tamatiesoppoeier
  • 1 k kookwater
  • 1 blikkie gebakte bone in tamatiesous

Metode

  1. Voeg die olie en die ui in ʼn kastrol en verhit.
  2. Gooi die kerrie by en braai saam met die ui in die olie oor matige hitte.
  3. Voeg die vleis by en roerbraai tot gaar.
  4. Voeg die droë soppoeier by die vleismengsel en roer dit goed deur.
  5. Gooi nou die kookwater by en laat die mengsel vir so 5 minute prut.
  6. Voeg die blikkie boontjies met die sous by die vleismengsel en laat prut tot die gereg lekker warm is.

Bedien saam met rys. Die gereg is ook heerlik saam met mieliepap of selfs as vulsel vir vetkoek.

Wenk van die week: Moenie enige blikkieskos in ʼn oop blikkie in die yskas bêre nie. Metaal kan deurlek na die kos toe en ook die geur beïnvloed. Gooi dit eerder in ʼn glas- of plastiekhouer. 

Het jy ʼn lekker sakpasresep?

Stuur gerus jou resep vir ons en as Maroela jou resep publiseer, ontvang jy ʼn lekker geskenkpakkie!


Stophonger-logo.jpgHet jy geweet? 85% van behoeftige kleuters daag ná ʼn naweek honger by hul kleuterskole op.*

Wil jy tot Helpende Hand se #StopHonger-veldtog bydra om die nood van behoeftige kleuters* te verlig?

SMS die woord STOP na 38969 (SMS kos R10) en dra by tot ʼn kosblikkie vir ʼn behoeftige kleuter of besoek hul webtuiste.

*Bron: Helpende Hand Hongersnoodverslag, Aug18

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.