Soorte resepte:

Sjef Adrian Vigus-Brown leef sy roeping uit

Sjef Adrian Vigus-Brown (Foto: Verskaf)

Om ʼn sjef te wees is vir Adrian Vigus-Brown meer as net ʼn werk, vir hom beteken dit om sy passie uit te leef. Hy het entoesiasme en ʼn passie vir sy werk, hy sit ure daarin, werk hard en het talle toekennings om daarvoor te wys.

Vigus-Brown is op die ouderdom van 30 die uitvoerende sjef by die glansryke vyfster African Pride Melrose Arch-hotel, Johannesburg.

Hy sê sy passie vir kos en kosmaak kom al van ʼn baie jong ouderdom af. Hy het selfs op negejarige ouderdom op vakansie by ʼn hotel se kombuis ingevaar en die uitvoerende sjef met vrae gelooi.

“Ek het geweet dit is waar ek wil wees. Ek het altyd verkies om in die kombuis te wees terwyl ander kinders speel. Ek wou koskanale op televisie kyk eerder as die gewone programme wat kinders gekyk het. Ek het op hoërskool ook in restaurante begin werk en private spyseniering begin doen.”

Vigus-Brown het aan die Oos-Rand van Johannesburg grootgeword. Nadat hy gematrikuleer het, het hy ʼn vakleerlingskap by Starwood Hotels and Resorts voltooi en al die nodige diplomas gekry by die HTA School of Culinary Art. Op die jong ouderdom van 25 is hy as uitvoerende sjef by African Pride Melrose Arch aangestel.

Vigus-Brown sê hy lewe volgens die woorde van Tony Robbins: “Mense word beloon in die openbaar vir dit wat hulle al jare lank in privaatheid beoefen.”

Hy verduidelik dat sy kosmaak-styl altyd aan die verander is en dat dit saam met nuwe tendense en tegnieke groei. Op die oomblik is hy lief daarvoor om geregte stadig te laat gaar word en vir baie ryk kosse. Hy hou ook daarvan om die vleissnitte van ʼn dier te gebruik wat nie alomgewild is nie, om so min as moontlik daarvan te vermors en om dan iets heerlik daarvan te maak.

Sjef Adrian Vigus-Brown (Foto: Verskaf)

Vigus-Brown is jare lank al ʼn deelnemer aan die Wêreld-sjeftoer teen honger en speel ʼn aktiewe rol by die Suid-Afrikaanse sjefsvereniging, waar hy onlangs aangewys is om sy tweede termyn op die raad van direkteure dien.

Hy voel sterk daaroor om programme te implementeer wat ʼn impak op die sjefswêreld maak, insluitend mentorprogramme vir jong sjefs en kompetisies.

“Ek is toegewy aan vrywilligerswerk. Ek kan nie die vermorsing van voedsel verdra nie. Ek is in ʼn posisie om my bestuur- en kosmaakvermoëns te gebruik om na die groter prentjie om te sien, en sodoende help ek mense wat in desperate nood verkeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.