Soorte resepte:

Sjef Bertus Basson: ‘SA inspireer my’

Bertus Basson (Foto: Verskaf)

Deur Janie Monsieur

Die bekende Suid-Afrikaanse sjef Bertus Basson (42) het al borde voor duisende buitelanders neergesit, in topklas-restaurante gewerk en al wat ʼn land is se kosse probeer, maar vir hom is Suid-Afrika steeds die beste en put hy inspirasie uit die reënboognasie.

Basson het in Nelspruit grootgeword en vertel dat kosmaak as beroep nooit regtig vir hom ʼn keuse was nie. “Dit was meer ʼn natuurlike beweging in my lewe.

“Ek het nie na skool gaan studeer nie, want ek het geweet ek wou kosmaak. Dis hoe ek grootgeword het; kos was samesyn en ons het geleenthede soos Kersfees en verjaarsdae met kos gevier. Kos het altyd ʼn belangrike rol gespeel,” sê hy.

Basson se eerste werk was by die Royal Hotel op Riebeek-Kasteel en daarna het hy sowat drie jaar in Londen vertoef waar hy onder meer onder die Michelin-bekroonde Chez Brucein gewerk het. Hy het daarna Suid-Afrika toe gekom en die plaaslike koswêreld op horings geneem.

Bertus Basson ontvang ‘n Eat Out-toekenning (Foto: Eat Out)

In 2007 het Basson sy eerste restaurant, Overture, op Stellenbosch oopgemaak. Vandag het hy reeds drie boeke geskryf, is hy ʼn bekende gesig op kosprogramme soos The Ultimate Braai Master, Brood en Botter en Goed, Beter, Bertus op televisie, en het hy die Overture-restaurantfamilie uitgebrei met eetplekke soos Eike, Spek & Bone, De Vrije Burger op Stellenbosch, en The Deck at Hidden Valley.

Vir sy werk het Basson al talle erkennings ontvang soos Eat Out se San Pellegrino & Acqua Panna sjef van die jaar in 2019. Overture is ook gereeld te sien op lyste van die beste restaurante in Suid-Afrika.

Basson se kosfilosofie stam uit tradisionele Suid-Afrikaanse koskultuur met ʼn moderne uitkyk. Hy voel sterk daaroor om plaaslike produkte te gebruik en om seisoenale bestanddele in sy koskuns te gebruik.

In sy persoonlike lewe kweek hy en sy vrou, Marli, saam met hul twee kinders, graag hul eie groente by die huis. As hy nie by een van sy deftige restaurante agter die kospotte staan nie, verkies Bertus eenvoudige, Suid-Afrikaanse kos.

Bertus by een van sy restaurante, Spek & Bone. (Foto: Facebook)

“Ek is mal oor ʼn bak pasta of lekker aartappels. Ek is ook ʼn sucker vir lekker vis en geniet dit baie om groente te eet. Maar ek probeer eet wat in seisoen is; so in die winter sal ons baie sop en goeie brode eet en in die somer weer iets ligter.”

Basson sê sy liefde vir kos kom uit twee oorde. Eerstens omdat koskultuur gedurig verander en tweedens jaag die stres van restaurante sy adrenalien op.

“Mens kan nooit alles van kos af weet nie. Dit verander konstant, so my spyskaart moet ook konstant verander en plek maak vir nuwe idees. Verandering bring nuwe inspirasie en ek word geweldig deur bestanddele geïnspireer, veral in Suid-Afrika. Suid-Afrika, sy kosse en die kulture wat daarmee saamkom, inspireer my.

“Ek hou ook van die stres in restaurante, want daardie stres gaan daaroor om iets perfek te kry en perfekte kos is vir my belangrik en motiveer my om beter te wees.”

Basson is tans die aanbieder van kykNET se splinternuwe realiteitsprogram In die Sop, waar hy help om nuwe lewe in eetplekke in te blaas.

Bertus en Marli Basson (Foto: Facebook)

Hy sê hy wil op so ʼn manier help om die restaurante op ʼn nuwe pad te stuur, veral nadat die Covid-19-pandemie so ʼn verwoestende impak op die bedryf gehad het.

“Ons verander alles van die restaurant – van hoe dit lyk tot die spyskaart – natuurlik binne ʼn spesifieke begroting. In kleiner dorpe is dit gereeld die probleem dat restaurante se spyskaarte te groot is, so ons maak dit kleiner en verfyn dit. Ek wil hulle inspirasie gee om met hul restaurant vorentoe te beweeg.”

Hoewel Basson al byna alles bereik het waarvan ʼn sjef kan droom, sê hy hy het nog baie aspirasies vir sy kosloopbaan. Deesdae fokus hy daarop om meer Suid-Afrikaans te wees in die kombuis.

“Ons het so ʼn mengelmoes van kulture en ek wil die kulture raaksien en vier – dit bied baie inspirasie vir my. Daar is nog soveel aan Suid-Afrika om te vier, en omdat ons nog ʼn relatiewe jong koskultuur het in die land, is dit asof ons aktief besig is om die reëlboek daaroor te skryf. Die moontlikhede is oop en ek wil dit verder verken.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kanjynoumeer ·

Bertus Basson, jy is n baie groot bate vir Suid-Afrika.
Dankbaar.

Tokkel ·

Geniet jou program op TV. Jy is ‘n regte ou raakvatter met baie idees……inspirasie vir almal…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.