Die landwye soektog vir Suid-Afrika se beste boereworsresep het amptelik afgeskop in die jaarlikse Championship Boerewors-kompetisie met die wenner wat in Augustus vanjaar aangekondig sal word.
Shoprite en Checkers het jaarliks ʼn kompetisie om Suid-Afrika se beste boereworsmaker te vind – iemand met ʼn uitstaande resep vir tradisionele boerewors en met die vaardighede om dit van niks af aan mekaar te slaan.
Die boereworskampioen van 2018, Yvonne Blaauw, het vanjaar se deelnemers aangemoedig om tyd af te staan om hul resepte te verfyn.
“Dit het my 15 jaar geneem om my resep perfek te kry, met behulp van my vriende en familie se waardevolle terugvoer. Om te weet dat mý boerewors die beste in die land is, is onbeskryflik,” het sy gesê.
Die beoordelingspaneel sal eerstens seker maak al die inskrywings strook met Suid-Afrika se wet oor wat as tradisionele boerewors geklassifiseer kan word.
Tradisionele boerewors moet uit minstens 90% vleis bestaan. Dit moet altyd beesvleis bevat, met óf lamsvleis óf varkvleis óf ʼn mengsel van die twee daarby. Die vetinhoud van die vleismengsel mag nie meer as 30% wees nie.
Resepte mag onder meer nie spek, blatjang, kaas, peri-peri, kerrie, tamatiesous, Peppadews, groen soetrissie, paprika, suurlemoen, mosterd, knoffel, gemmer, kaneel of heel peperkorrels bevat nie.
Bykomende bestanddele wat wel toegelaat word, is onder meer koljander, naeltjies, neutmuskaat, swart peper, asyn, water en Worcestersous.
Die paneel sal hul top-30 resepte uit die kwalifiserende inskrywings kies, vandaar sal ʼn siftingsproses plaasvind en op 28 Augustus 2019 sal die finaliste hul vernuf moet wys voordat ʼn wenner gekies sal word. Teen 13 September sal die wennerboerewors in winkels te koop wees.
Afgesien van die titel van boereworskampioen vir 2019, sal die wenner ook pryse ontvang. Die kompetisie se borge is Coca-Cola, Wellington’s, Toyota en Sasko. Die wenner sal ook met ʼn Toyota Fortuner 2.4 GD-6 4×4 6AT ter waarde van meer as R500 000 wegry.
Vir meer inligting of om in te skryf vir die kompetisie, besoek die webwerf hier.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
17 Kommentare
Die beste wors wat ek al geëet het kom van ou plaas tannies iewers waar geen winkels of slaghuise naby is nie en hulle die resepte van geslag na geslag oordra.
Pat Smith van maders slaghuis maak by verre die beste boerewors wat ek al geproe het.
Op Ellisras kan jy net by Bertie wors koop. Dit is bees wêreld en goeie wors is skaars.
Min slagters kan deesdae hulle eie boerewors maak. Meeste nuwe manne vat net ‘n pakkie Freddy Hirsch of Crown National en volg die resep. Orals is net Ouma’s of Drakensberg.
Deo Gloria in Annlin / Sinoville ook ñ treffer