Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Beskuitjie-fudge

Beskuitjie-fudge (Foto: Annelien Pienaar)

Dit is die ideale resep vir die jongspan om tuis self te maak, natuurlik onder ma of ouma se wakende oog. Oumas en tannies het nou maar eenmaal net die gawe om ’n kind te bederf en goed toe te laat wat mamma nie sal nie.

Hierdie resep is veilig en maklik vir ’n kind om te volg; ek dink in ’n mate het my een seun, so ’n klein ondeunde rooikoppie, vinnig geleer lees met begrip. Ons het altyd gesukkel om hom die liefde vir lees aan te leer totdat die kook- en visvanggogga hom gebyt het, toe kom ek mos agter die man wil goed lees wat sin maak, nie stories nie!

Hopelik maak dit die leesgogga ook vir ander maters wakker.

Annelien Pienaar is ‘n voedselwetenskaplike en skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist.

Hoeveelheid: Halwe standaard-oondpan

Bestanddele

  • 250 g bakkersmargarien met 80%-vetinhoud of botter
  • 500 g versiersuiker, gesif
  • 5 e kakao, gesif
  • 2 t vanieljegeursel
  • 1 eier, geklits
  • 2 pakkies Marie-koekies of Tennis-beskuitjies, gebreek

Metode

  1. Smelt die margarien oor medium hitte en roer die versiersuiker, kakao en vanieljegeursel by. Haal van die stoof af en klop die eier vinnig by.
  2. Gooi die koekies in die kastrol en meng deeglik met die kakaomengsel. Druk in gesmeerde panne in die dikte van jou keuse uit.
  3. Laat effens afkoel en sny in blokkies. Laat heeltemal afkoel in die yskas.
  4. Maak jou ma se kombuis skoon en eet alles alleen op!

Variasies:

  • Haal ’n halwe pakkie koekies uit en voeg 1 koppie gekapte pekanneute by.
  • Haal ’n halwe pakkie koekies uit en voeg 1 koppie gekapte kersies by.
  • Smeer bokant met karamelkondensmelk en drup gesmelte baksjokolade oor.

Besoek Annelien Pienaar se webtuiste en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae